Bokke kruis swaarde met Rose in halfeindstryd

Kurt-Lee Arends het een van die Springbokke se drieë op die Stade de France gedruk. (Foto: Franck Fife/AFP)

Die Springbokke het gisteraand die Wêreldbeker-gasheerland in sy hoofstad uitgeskakel toe hulle vir Frankryk in ʼn aksiebelaaide kwarteindstryd met 29 – 28 op die Stade de France geklop het.

Daar is talle helde in die Suid-Afrikaners se uitstekende vasbyt-triomf: Franco Mostert het ʼn spul Fransmanne in hul spore gestuit, Eben Etzebeth het ʼn baie goeie wedstryd gehad en Cheslin Kolbe het waarskynlik een van sy beste vertonings nóg in ʼn Springbok-trui gelewer.

Die 29-jarige vleuel het nie net ʼn drie gedruk nie, maar sy stelskop-afstormsessie het vir Thomas Ramos onder druk geplaas én ʼn deurslaggewende rol in die uiteinde van die wedstryd gespeel.

Suid-Afrika het vir sy sesde Wêreldbeker-halfeindstryd gekwalifiseer en die span is op koers om sy Webb Ellis-titel te verdedig.

Kom ons almal hou duim vas dat beurtkrag Saterdag afgelas word. Die Springbokke speel immers om 21:00 teen Engeland op die Stade de France.

Uitslae:

Argentinië 29 – 17 Wallis

Nieu-Seeland 28 – 24 Ierland

Engeland 30 – 24 Fidji

Suid-Afrika 29 – 28 Frankryk

Halfeindstryd-bepalings:

Vrydag: Nieu-Seeland teen Argentinië om 21:00

Saterdag: Suid-Afrika teen Engeland om 21:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kobus ·

Ek is verras deur die Man van die wedstryd. Etsebeth het briljant gespeel maar sou ek dink Kolbe was die speler wat die grootste impak gehad het. Die afstorm van die doelskop was mynsinsiens die bepalende faktor in ons wen gewees.

Cobus ·

Die Engelse behoort nie ‘n harde neut te wees nie, gesien in die lig van hulle getsjommel teen Fidji. Dit het vir my gelyk of hulle veel eerder wou verloor. Ongetwyfeld die swakse kwarteind die naweek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.