Bokke lugtig vir Rooi Drake se vuur

Willie le Roux in aksie in een van die Springbokke se vorige wedstryde teen Wallis. (Foto: GB Jordaan)

Hoewel die Springbokke oorgehaal is om hul stempel op Cardiff af te druk, weet hulle dat die Rooidraakspan vuur op sy tuisveld kan spoeg.

“Ons het baie respek vir Wallis,” het Siya Kolisi op die vooraand van die twee spanne se Wêreldbeker-opwarmingswedstryd gesê.

Dit sal die Springbok-kaptein se eerste internasionale kragmeting van die jaar wees nadat hy vroeër ʼn knieoperasie ondergaan het.

“Daar is ooreenkomste tussen die twee spanne – Wallis beskik oor verskeie hardwerkende spelers wat dinge vir jou baie moeilik kan maak. Dit gaan beslis ʼn taai toets vir ons wees.”

Hy het ook na die halfeindstryd van die 2019-Wêreldbeker verwys; ʼn wedstryd wat Suid-Afrika met 19–16 gewen het.

“Hulle het toe soortgelyke spel as ons opgedis en uiteindelik was net een strafskoppoging die verskil tussen die twee spanne.”

Dan Biggar. (Foto: Gabriel Bouys/AFP.)

Twee van Wallis se steragterspelers – Liam Williams en Dan Biggar – is weliswaar as voorsorgmaatreël aan die wedstryd onttrek, maar Kolisi meen dat die Rooi Drake steeds ʼn krag is waarmee daar rekening gehou moet word.

“Daar is ʼn paar jong spelers wat hul hande opgesteek het en hulle sal aan hul ondersteuners wil bewys dat hulle in die span hoort. Ons sal ons egter daarop toespits om momentum vir die Wêreldbeker op te bou.”

Die wedstryd begin vanmiddag om 16:15 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Willie le Roux (heelagter), Canan Moodie (regtervleuel), Jesse Kriel (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Cheslin Kolbe (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Jaden Hendrikse (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), RG Snyman (slot), Jean Kleyn (slot), Frans Malherbe (stut), Malcolm Marx (haker) en Steven Kitshoff (stut). Plaasvervangers: Bongi Mbonambi, Ox Nche, Vincent Koch, Franco Mostert, Marco van Staden, Duane Vermeulen, Grant Williams en Damian Willemse.

Wallis: Cai Evans (heelagter), Tom Rogers (regtervleuel), Mason Grady (buitesenter), Johnny Williams (binnesenter), Rio Dyer (linkervleuel), Sam Costelow (losskakel), Kieran Hardy (skrumskakel), Aaron Wainwright (agtsteman), Jac Morgan (kaptein en flank), Dan Lydiate (flank), Will Rowlands (slot), Ben Carter (slot), Keron Assiratti (stut), Elliot Dee (haker) en Corey Domachowski (stut). Plaasvervangers: Sam Parry, Nicky Smith, Henry Thomas, Teddy Williams, Tain Basham, Tomos Williams, Max Llewellyn en Louis Rees-Zammit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.