Bokke se grofgeskut brand weer los

Allan Alaaatoa en Eben Etzebeth. Foto: Saeed Khan/AFP.

Die Springbokke se Rugbykampioenskap-veldtog het ’n welkome hupstoot gekry danksy gister se goeie oorwinning van 24–8 teen die Wallabies.

Siya Kolisi se span het nie net die eerste Springbok-groep in nege jaar geword om ’n toets weg van die huis teen die Aussies te wen nie, maar dit was ook hul eerste triomf in Sydney sedert Francois Pienaar en Kie se heldedade in 1993.

En ná die onlangse fiasko in Adelaide, is Kolisi dankbaar vir die ondersteuners se lojaliteit.

“Dit was ’n taai week vir ons as span en ons het begrip vir ons ondersteuners se mismoedigheid gehad. Ek wil hulle juis vir hul ondersteuning bedank. Ons wou bitter graag in die Rugbykampioenskap-wedloop gebly het en dit is nege lang jare sedert ons laas hier ’n wedstryd kon wen,” het die Springbok-kaptein gesê.

Die Springbokke het veral die Wallabies voorlangs laat les opsê met spelers soos Jasper Wiese en Malcolm Marx wat ’n barshou gespeel het. Kolisi het self ook met sy inklimspel beïndruk.

Maar tog is dit Eben Etzebeth se onderonsie met Allan Alaalatoa wat die hoofopskrifte gehaal het.

Die Suid-Afrikaners se reuseslot het duidelik nie met iets saamgestem wat die Wallabies-stut gedoen of gesê het nie.

En as ’n mens na die woede in Etzebeth se oë gekyk het, kan Alaalatoa maar tog te bly wees dat dié skermutseling nie ’n skoolgeveg agter die snoepie was nie; die Springbok sou beslis die uitklophou geplant het.

Selfs al het hy ’n paar hemp- en baadjieknope in die proses verloor.

“Ek is mal daaroor wanneer die Bokke hierdie soort spel opdis. ’n Vurige en aggressiewe wedstrydbenadering wat normaalweg net na vore kom wanneer hulle ’n paar keer op die veld verneder is,” het die Nieu-Seelandse joernalis, Ben Smith, getwiet.

Tog stem almal nie met hom saam nie.

Volgens Wallis se Stephen Jones het Etzebeth dinge te ver in die rooi gedruk.

“Hy is baie gelukkig om nie summier van die veld gejaag te word ná al die vorige waarskuwings nie. Die skeidsregter was hoegenaamd nie in beheer van sake nie,” het Jones gesê.

Die twee spelers het egter ná afloop van die wedstryd weer saam gelag en gesels. En anders as wat Nic White jou sal wil laat glo; rugby is beslis nie sokker nie.

Rugbykampioenskap-punteleer:

  1. Nieu-Seeland 10 punte
  2. Australië 9 punte
  3. Suid-Afrika 9 punte
  4. Argentinië 9 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Nationalist ·

Ag Eben, kom oor jouself. Hierdie gedrag is pateties!

Treurwilger ·

‘n Deeglike, duidelike wen vir die Bokke, veels geluk.
Die Houtlepel wink ongetwyfeld hierna vir die Wallabies.
Dit bly jammer dat die skitterende oorwinning voorafgegaan is deur ‘n weeklange kla en kasty van die skeidsregter deur Bokondersteuners, oud-Bokke en -kapteins, -afrigters, rugbyskrywers.
Die Kiwi-skeidsregter kan ‘n sug van verligting slaak dat hy die verguising vryspring wat sy kollega verlede naweek moes verduur. Die Bokke het gewen.

Kuver ·

Vandag sal geen SA ondersteuner kla oor die ref nie, hulle het mos gewen

Manie ·

Die skeidsregter het geblaas wat hy gesien het, beide kante. Mapimpi is tereg gestraf vir die onderonsie wat hy veroorsaak het, met dieselfde skeidsregter sou Koroibete verlede week ‘n geelkaart gekry het.

Manie ·

Wat is jou mening oor die 2 skeidsregters, wie het die beter wedstryd gehad?

Treurwilger ·

Manie, die skeidsregter speel ‘n heeltemal té groot rol in Suid-Afrikaners se oë. En klaarblyklik joune, maar nie myne nie.
Hy is daar om die wedstryd na die beste van sy vermoë te laat vloei.
Die indruk word geskep dat skeidsregters hul laat intimideer deur die kabaal wat in die media opgeskop word. As ek iets móét sê oor Saterdag is dit dat die wedstryd ‘doodgeblaas’ is uit vrees vir foute begaan.
Te verstane ook.

Manie ·

Ek verstaan nog nie jou redenasie nie. Die Koroibete voorval was blatante vuilspel wat voor die lynregter se oë gebeur het, maar niks is daaraan gedoen nie, dus het die skeidsregter niks daarmee verkeerd gesien nie en dis wat my pla. Solank die fluitjie beslissings vir beide spanne geld, is ek tevrede. Gaan kyk weer na die voorval.

Manie ·

Lees gerus Nigel Owens wat alom gereken word as een van die bestes wat ooit geblaas het se kommentaar oor die 2 voorvalle met dancing queen White en Koroibete op IOL.

vuurvliegie ·

Laas week het MM berig van vuiste wat klap by rugby wedsteid by onder 0.15s.
Dis duidelik waar die jeug dit sien. Eben se gedrag is ‘n verleentheid vir ons jeug. Ek hoop die Sighting komitee tree teen Eben en Alaalatoa op en straf hulle vir die oe krappery. Tot Kolisi het genoem dat dit ‘n swak voorbeeld vir die jeug en jong spelers stel. Tyd dat steriod toetse meer gedoen word op spelers soos Eben. Die mense wat Eben se gedrag goedkeur moet nie weer kla as “fights” by skole rugby uitbreek nie.

Moedeloos ·

Die O.15’s onderonsie is deur die toeskouers veroorsaak. Hierdie insident het plaasgevind tussen spelers. Ek praat dit glad nie goed nie maar die 2 insidente kan ook nie met mekaar vergelyk word nie. En ongelukkig vir Eben is hy altyd die teiken.

N ·

Klink of hierdie persoonlik raak teenoor Eben. Dalk jou posisie gevat op laerskool?

blia ·

As iemand my so om die nek gryp soos daai ou met Etsebeth gedoen het, sal ek ook rooi sien.

Patch ·

Martin Bester het op Jacaranda FM my dag gemaak vanoggend. Die liedjie Hold me closer tiny dancer van Elton John en Britney Spears het gespeel en daarna het Martin gesê hy dedicate die liedjie aan Eben en Alaalatoa ☺
Alaalatoa, ek dink na Saterdag weet jy, jy mors nie met Eben Etzebeth nie!

Braam ·

Die verskil is net dat die ware legende (BB) dit met n wyse ‘smile’ so gedoen het.

Elma ·

Eben is my hero. Sal altyd wees. 4 manne kan hom nie keer nie, selfs die ref retireer!

piet ·

Bokke is op en af, weet nooit wat die volgende toets kan gebeur nie. ‘n Paar ouens soos Willemse het hand opgesteek. Kolisi wys weereens deur sy spel en leiding dat hy een van ons beste kapteins ooit is. Ek dink ‘n paar ouens soos Vermeulen kan nou maar aftree. Die jonger manne is meer dinamies en beweeglik. Etsebeth moet ruskans kry, hy speel elke wedstryd. Dit gaan nag wees as ons vir Eben weens ‘n besering voor die RWB moet verloor.

N ·

Kolisi het n briljante wedstryd gehad, as speler nie as kaptein nie.

piet ·

Beste spelende kaptein in ‘n baie lang tyd. Baie beter speler as wat Smit en Pienaar byvoorbeeld was. Lei met sy voorbeeld, trek die span tot hoer hoogtes met sy goeie spel as kaptein.

N ·

Seker baie beter as Richie McCaw, Hooper, Parisse en Allan Wynn Jones saam of hoe piet?

piet ·

N – Suid-Afrikaanse kapteins. Ouens soos Smit en Pienaar het nou nie juis die wereld aan die brand gespeel soos Kolisi nie. Kolisi is ‘n BAIE beter speler as laasgenoemde 2 kapteins byvoorbeeld. Hy gaan waarskynlik ook die SA kaptein wees met die meeste RWB-bekers. Briljant, Hall of Fame materiaal.

N ·

Hy is nie eers in die top 10 losvoorspelers huidiglik in die land nie. Ja hy het n goeie wedstryd gehad, maar een goeie wedstryd regverdig nie 20 onder gemiddelde wedstryde nie. Hys seker skaam vir die skydsregters, wil glad nie met hulle praat nie.

piet ·

LOL. Speler van die jaar vorige seisoen jou sommetjies werk nie so lekker nie. Briljante speler EN kaptein.

N ·

Hall of fame, sit sommer Luke Watson, Earl Rose en Jesse Kriel se name ook op jou lys.

N ·

Mallett kry te veel kans om nonsense te praat. Dalk moet hy maar saam Nic White sokker se kant toe gaan.

Niklaas ·

Min mense meld iets daaroor , maar laas Saterdag se SA/Aus rugby wedstryd skeidsregter , Ben O’Keefe het werklik een puik regverdige vertoning gelewer. 70% beter as daai partydige Paul Williams van die week vroeer. En beide is van New Zealand.

Voilet ·

Hy moet uit tree! Sy verloofde moet hom ook oor die pale skop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.