Bokke: Soos ʼn Hollywood-rolprent

pieter steph du toit siya kolisi duane vermeulen

Pieter-Steph Du Toit, Siya Kolisi en Duane Vermeulen. (Foto: @Springboks/X/Twitter)

Drie uitklopwedstryde – drie oorwinnings – elkeen met net ʼn enkele punt! Dis die soort drama wat net in Hollywood-rolprente se draaiboeke voorkom. Dis presies wat die Springbokke vermag het tydens die Wêreldbeker in Frankryk. Nou moet iemand net die rolprent vervaardig.

Daar is baie gepraat en geskryf voor die toernooi. Die verwagtinge was dat rugby se krag na die Noordelike Halfrond geskuif het met die Franse en Iere as die voorste spanne op die wêreldranglys. Die rekordboeke sal wys dit was twee Suidelike Halfrond-spanne wat in die eindstryd gespeel het nadat die noorde weer nie oor die laaste hekkies kon kom nie.

Soos hier voorspel is op 29 Augustus, het afrigters Jacques Nienaber en Rassie Erasmus ʼn wenplan gehad lank voor die toernooi. Wat hulle vir die res van die spanne gewys het, en vir Suid-Afrikaanse politici, is dat beplanning en analise en spanwerk die sleutel tot sukses is. Die spelers het presies geweet wat van hulle verwag word en hulle het die plan meesterlik uitgevoer. Dit was juis daardie rekord-oorwinning teen die All Blacks op Twickenham voor die toernooi wat die fondasie gelê het vir die oorwinning in die eindstryd.

jessie kriel

(Foto: @Springboks/X/Twitter)

Nadat die feesviering verby is, begin die aanloop reeds na die volgende toernooi. Talle Springbokke sal aanbeweeg en hulle loopbane afsluit met lonende kontrakte. Nou begin die beplanning vir ʼn nuwe afrigter en natuurlik die inspan van die nuwe talent om die gate te vul wat deur die helde van 2023 gelaat sal word.

Dis baie moeilik om enkele spelers uit te sonder, maar sommige kan beslis by die naam genoem word. Pieter-Steph du Toit was die speler van die wedstryd in die eindstryd en dit was meer as welverdiend. Sy monsterduikslae het die Bokke telkens momentum gegee en die All Blacks in hul spore gestuit. Die sameloop van omstandighede wat daartoe gelei het dat Handré Pollard toe wel in Frankryk gespeel het, voeg ook net nog meer drama by tot die draaiboek van daardie rolprent. Dan is daar boonop die rooi kaart vir All Black-kaptein Sam Cane en geel kaarte vir kaptein Siya Kolisi en Cheslin Kolbe om nog meer drama te skep. Boonop is daar Deon Fourie wat basies die hele wedstryd op haker moes speel nadat die arme Bongi Mbonambi in die derde minuut beseer is.

Suid-Afrika het geen gebrek aan jong talent nie en die momentum van hierdie oorwinning het nuwe vriende en ondersteuners vir Springbok-rugby geskep. Die rugbybase moet dit inspan om Suid-Afrikaanse rugby tot groter hoogtes te vat. Die toernooi was beslis ʼn kommersiële sukses vir borge – en plaaslike ondernemings wat voordeel trek uit die opwinding en feesviering – van die slaghuis tot die sportkroeg. Dit skep ook ʼn golf van opwinding en positiewe gees in die land, al los dit nie die groter probleme op nie.

Die volgende toernooi word in 2027 in Australië gespeel. Dis ʼn land met groot probleme in hulle rugby. Nie net wat die administrasie betref nie, maar ook in terme van die gewildheid van rugby as sport. Sukses bou sukses en die Australiërs gaan baie vinnig oplossings vir hul probleme moet vind.

Dan speel ons in 2031 in die VSA. Dis darem hoog tyd dat Suid-Afrika as die enigste land met vier titels ook weer die spogtoernooi op plaaslike bodem aanbied. In 2035 sal dit reeds 40 jaar wees sedert Francois Pienaar se span die trofee die eerste keer op Ellispark verower het.

Nou skuif die fokus na die Wêreldbeker-kriekettoernooi in Indië. Dalk kan die Bokke die Proteas inspireer om nog ʼn trofee huis toe te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

George ·

Julle het n klomp Saffas baie trots gemaak, maar net so baie kwaad gemaak want nou is hulle bekke ordentelik stil. VIVA DIE BOK!!

Karoo ·

Baie bly die Springbokke het gewen… maar dankbaar dat alles nou net weer na “normaal” kan verkeer… volgende maligheid sa Kersfees en Nuwe Jaar wees. Winkels reeds vol van alles…. wat ‘n drukgang.

Christo ·

As dit nou 1 titel is wat SA glad nie verdien nie, is dit hierdie 1. Nie net het die beste span nie gewen nie, maar die beste 2 het nie in die finaal gespeel nie. Rugby gaan in die drein af en beteken minder en minder.

kragaap ·

Suur druiwe…..”looks at the scoreboard” volgens Boy Louw. Beste span het meeste punte. Beker oppad SA toe. Jammer vir die realiteits check…..

Stefan ·

Bokke wen wedstryde teen 4 van die top 5 opponente (Skotland, Engeland, Frankryk en Nieu Sealand). Die nr 1 span (Ierland) verloor teen die nr 4 ABs en ons klop hulle. So nou verstaan ek glad nie? Hoekom verdien ons dit nie? Teen wie moet ons dan nog wen voordat ons dit verdien?

Gustav ·

Na watter wereldbeker wedstryde het jy gekyk, rolbal? Die 2 beste spanne van die toernooi het in die eindstryd gespeel en die span met die meeste punte na die eindfluitjie geblaas het is die wenner. Wat verstaan jy nie van die nie.

De Villiers ·

Ai, dit sou darem lekker gewees het as die Springbokke weer die naweek gespeel het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.