Bokke is gunsteling met luislang-wedstrydplan

Pieter-Steph du Toit op die voorvoet, met Franco Mostert, Steven Kitshoff en Duane Vermeulen in die agtergrond. (Foto: Twitter/Springbokke)

Toe die loting in Desember 2020 gedoen is vir hierdie Wêreldbeker-toernooi het die krag in rugby anders daaruit gesien. Dit het tot gevolg dat die vier gunstelinge om die Webb Ellis-trofee te wen, Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Frankryk en Ierland, saam in Groep A en B ingedeel is. Die grootkoppe van rugby het reeds besluit vir die volgende toernooi sal die loting eers nader aan die Wêreldbeker gedoen word om juis daardie probleem op te los.

Die probleem is nou dat twee van die gunstelinge reeds in die kwarteindstryde huis toe gestuur sal word. Vir die Springbokke beteken dit hulle kom in die kwarteind teen die All Blacks of die Franse Hane te staan. Sou die Bokke daar wen, sal hulle waarskynlik in die eindstryd teen die ander een van daardie twee gunstelinge speel. Ná hul historiese oorwinning oor die Kiwi’s die afgelope Saterdag, lyk die Bokke se kans om wéér as oorwinnaars uit die stryd te tree, al hoe groter.

Die loting beteken ook Engeland en Australië het ʼn makliker roete na die halfeindstryde. Om daardie punt beter te verstaan, moet jy na die groepe kyk waarin die spanne speel:

Groep A lyk na ʼn uitgemaakte stryd tussen die tuisspan Frankryk en die All Blacks oor wie die groep gaan wen en wie tweede gaan wees. Dit sal ook bepaal teen wie die Springbokke in die kwarteind te staan kom. Italië het die Franse wel skrik gemaak in Februarie vanjaar toe die Hane net met 29-24 kon wen. Die tuisspan én die All Blacks sal lugtig wees vir die manne van Rome. Die geskiedenis is teen Italië – hulle kon die Franse laas in 1997 klop en kon die All Blacks nog nooit die loef afsteek nie. Die openingswedstryd tussen die gasheer en die All Blacks (Vrydag 8 September om 21:15)  sal bepaal wie wen die groep.

 

Groep B word beskou as die stryd tussen die Springbokke en Ierland oor wie die groep gaan wen. Die uitslag sal natuurlik bepaal wie speel teen Frankryk/Nieu-Seeland in die kwarteind. Die Bokke het in 1999 en 2015 ook in die groepfase teen Skotland te staan gekom en onderskeidelik met 46-29 en 34-16 gewen. Ierland het die Skotte in Maart vanjaar met 22-7 verslaan en min het intussen verander. Die span in die groep wat wel vir ʼn verrassing of twee kan sorg, is Tonga. Hulle spog met sterspelers soos Malakai Fekitoa, Vaea Fifita, Charles Piutau, Augustine Pulu en George Moala wat voorheen vir die All Blacks gespeel het. Moala mag nie in Tonga se eerste drie groepwedstryde speel nie weens ʼn skorsing. Sou die Bokke vasval teen Ierland, kan daardie laaste groepwedstryd teen Tonga deurslaggewend wees. Ierland, en veral Skotland, loop die gevaar dat die fisieke manne van Tonga groot skade kan aanrig aan hul vooruitsigte vir die uitkloprondes. Die voorspelling bly egter dat Suid-Afrika en Ierland sake sal uitspook om die groep te wen.

 

Fidji se 30-22-oorwinning oor Engeland in ʼn oefenwedstryd twee weke voor die toernooi begin, maak Groep C interessant. Wallis het probleme – soos die Bokke gewys het toe hulle die Rooi Drake met 52-16 getrap het in ʼn onlangse oefenwedstryd. Fidji behoort Wallis te klop. Hulle is meer fisiek en die eilandmanne se spelpeil het net betyds vir die toernooi ʼn opwaartse kurwe getoon. Georgië het self ʼn begeesterde span, maar nie genoeg vaardighede om Australië of Fidji te klop nie. Dit sal goed wees vir rugby en die toernooi om Fidji in die kwarteind te sien saam met Australië uit hierdie groep.

 

Wat Groep D betref, het Engeland se nederlaag teen Fidji op Twickenham in ʼn oefenwedstryd waarskynlik die ander spanne in hierdie mededingende groep hoop gegee dat twee plekke op die spel is in die kwarteindronde. Japan is nie meer wat hy was nie, soos die 21-42-nederlaag teen Italië in ʼn oefenwedstryd gewys het. Dit was nie die beste Ierse span wat gekies is nie, maar Samoa se naelskraapse nederlaag met 13-17 in ʼn oefenwedstryd het gewys hulle gaan sake nie maklik maak vir Engeland en Argentinië nie. Die groep se openingswedstryd tussen dié twee spanne sal waarskynlik bepaal wie die groep wen. Op huidige vorm behoort Engeland en Argentinië albei in die kwarteind te wees.

KWARTEINDSTRYDE

Indien Frankryk wen, sal hulle te staan kom teen Ierland – die span wat tweede in Groep B behoort te eindig. Die Springbokke sal dan weer in die kwarteind teen die All Blacks te staan kom – onderskeidelik die wenners van Groep B en die span wat tweede eindig in Groep A. Dit is interessant dat die beroepswedders steeds vir Nieu-Seeland as die gunsteling beskou om die eerste span te word om ʼn vierde Wêreldbeker te verower – al het die Bokke enkele weke voor die toernooi ʼn oorwinning van 35-7 oor die Kiwi’s behaal. Die ander kwarteindstryde behoort uitgespook te word tussen Australië en Argentinië en Engeland wat Fidji sal moet klop vir ʼn plek in die halfeind. Australië het in Julie in die Rugby-kampioenskap met 31-34 teen die Poemas verloor. Afrigter Eddie Jones het ʼn rampspoedige begin gehad as die Wallabies se nuwe afrigter, maar hy weet hoe om sleutelwedstryde te wen. In Australië se nederlaag teen Frankryk met 17-41 op 27 Augustus het hulle soos ʼn saamgeflanste span met geen plan gelyk nie. Die Franse flair sorg vir heerlike rugby vir die skare, maar daardie soort spel is ʼn groot waagstuk in uitkloprugby en jy moet goeie balbesit daarvoor hê.

HALFEINDSTRYDE

Die Bokke behoort die All Blacks weer te klop in die kwarteind om teen die wenner van Australië teen Argentinië te staan te kom. Nie een van daardie twee behoort die Suid-Afrikaners te klop nie. In die ander halfeind behoort dit Frankryk teen Engeland te wees.

EINDSTRYD

As alles volgens hierdie plan verloop, sal die Bokke die tuisspan in die eindstryd in Parys moet klop. Die duo van Rassie Erasmus en Jacques Nienaber is meesters om ʼn wenplan aanmekaar te sit. Die Bokke se luislang-wedstrydplan teen die All Blacks het gewys hoe jy ʼn Wêreldbeker wen. Jy wurg die ander span se balbesit, trap hulle in die vaste fasette, boelie hulle voorlangs en plant die uitklophou agterlangs. Die Bokke se voorspelers is die sleutel tot ʼn rekord van ʼn vierde Webb Ellis-trofee. En daar is soveel diepte onder die voorspelers dat dit moeilik gaan wees om uit die luislang se wurggreep te ontsnap.

Dit maak nie saak hoe goed jou agterspelers is nie – sonder gehaltebalbesit is hulle bloot verdedigers. In die Bokke se rekord-oorwinning Saterdag oor die All Blacks het ons gesien druk lei tot foute – dit lei tot talle strafskoppe en selfs geel kaarte. Die Bokke het ook in daardie oorwinning nie onnodig balbesit weggeskop nie – ʼn punt van kritiek teen vorige Bok-wedstryde. Die beker word nie in oefenwedstryde gewen nie, maar dit gee spelers selfvertroue – nie net in hulleself nie, maar ook in hul span afrigters.

Daar is niks gevaarlikers as ʼn Bokspan met die passie wat ons gesien het in die pak slae wat hulle die All Blacks gegee het nie. Die enigste vrae is of die Bokke se skopper pale toe betroubaar genoeg gaan wees. Hulle kan ook nie soveel tyd in ʼn opponent se kwartgebied deurbring soos teen die All Blacks sonder om punte aan te teken nie. As al hierdie dinge mooi reg val, sal dit dus nie vergesog wees dat Siya Kolisi weer op 28 Oktober in Parys daardie trofee omhoog sal hou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Vanessa ·

Let’s go bokke!!! Julle was BRILJANT vrydag teen New Zealand, ASB speel weer so! Ons staan agter julle :)

piet ·

Hierdie “oorversekerdheid” maak my bekommerd omdat ek nie seker is dit is heeltemal verdien nie. Die Bokke het slegs in die laaste 2 wedstryde (een van die spanne, Wallis. is tans baie swak) gelyk na ‘n span wat die RWB kan wen. Die res van die jaar se wedstryde was maar ‘n geploeter. Ons moet ook nie vergeet hoe maklik die AB’s ons vroeer vanjaar geklop het nie. Daar’s pelers wat van beserings af gaan terugkom en hul span gaan versterk en hulle gaan verseker nie weer so swak speel nie.

Martin ·

Ek laat nie gewonlik baie kommentaaar hier nie, maar voel ek vanoggend nogal lus om bietjie te gesels. Ek is die pa van 1 dogter en 2 suens. Soos dit maar ook met my was op skool is hulle leif vir hulle rugby en netbal. My kinders weet nou al van kleins af dat ek nie meer enige Suid Afrikaanse sport ondersteun nie, alhoewel my kas vol Sprinbok truie hang. Vir die eenvoudige rede dat Suid Afrikaanse sport deurvlek is van politieke inmenging. En raak maar rustig geagte leser. Ek is nie ‘n verkrampte Boere Oom wat nie wil aanbeweeg nie. Ek dink daar is briljante spelers van kleur in die Springbok Span wat vir seker daar hoort. My probleem is die blatante ras kwotas wat op ons sport afgedwing word. Ek ondersteun die beginsel van “Laat die beste speler speel”. Ongeag van kleur, maar suiwer op meriete. Hoe verduidelik jy vir jou kinders wat presteer in hulle sport dat daar net plek is vir ‘n beperkte hoeveelheid wit kinders in die skool spanne. Nou is dit maar Go Ierland !!

Mnr De Beer ·

Hier is n klein storie. Jy kan self kies of dit nie-fiksie of fiksie is. Eendag nou onlangs na 1994. Was daar n sport span. En die sport span se spelers was altyd gekies op meriete met geen politieke inmengery nie. Tot onlangs het dinge verander en die sport span moes ongelukkig spelers kies op hul velkleur in plaas van hoe goed die spelers speel. Hoop die storie was goed.

Niklaas ·

Soos talle kere in die verlede is ons nou alweer oorgerus. Ons maak gereeld daai fout .Ek glo die Bokspan sal redelik goed doen in hierdie wereld kampioenskap . Maar voordat ons ‘n staanplek vir die beker in die vertoonkas gereed maak , laat ons maar eers kyk hoe vaar die All Blacks en Frankryk teen mekaar. En ons moet gereed wees vir Ierland en Skotland wat ons kan verras.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.