Bokke verwelkom druk, sê komkommerkoel Pollard

Handré Pollard gesels met die media in Frankryk. (Foto: Anne-Cristine Poujoulat/AFP)

Die Springbokke se ongekende vermoë om nie net druk te absorbeer nie, maar ook om van hul beste rugby in die groot oomblikke van ʼn Wêreldbeker-toernooi te speel, beïndruk vriend en vyand in Frankryk.

Die Suid-Afrikaners het juis in ʼn titaniese kwarteindstryd hul man teen die begeesterde Hane op die Stade de France gestaan. Ander spanne sou dalk onder die volgehoue druk van Antoine Dupont, Peato Mauvaka en Grégory Alldritt gevou het, maar nie die Bokke nie.

Volgens Handré Pollard verwelkom die Springbokke drukkoker-situasies.

Die 29-jarige losskakel het immers teen die Franse gewys dat hy self ys in sy are het toe hy ʼn belangrike strafskop van meer as 50 m oor die dwarslat gejaag het.

“Baie van die spelers in die groep het nie die maklikste grootwordjare gehad nie; om Suid-Afrika dus in ʼn belangrike Wêreldbeker-uitspeelwedstryd te verteenwoordig is veel eerder ʼn voorreg as iets wat met druk gepaardgaan,” het Pollard gesê.

“Ons speel vir ons land en dit is belangrik om jou heel beste op die speelveld te gee.”

ʼn Kuitbesering het die voormalige Bulls-losskakel uit die Bokke se aanvanklike Wêreldbeker-groep gehou, maar hy is onmiddellik nadergetrek toe Malcolm Marx ʼn ontydige besering tydens ʼn oefensessie opgedoen het.

Manie Libbok. (Foto: Romain Perrocheau/AFP)

In Pollard se afwesigheid het Manie Libbok sy eie aanvallende stempel in die no. 10-trui afgedruk.

“Manie is ʼn nederige ou wat baie hard aan sy vaardighede werk en sy dinamiese spel is iets wat ons almal baie geniet.”

Die Springbokke speel Saterdagaand teen Engeland in die halfeindstryd van die Wêreldbeker en Jacques Nienaber-hulle sal ongetwyfeld planne beraam om al twee sterre in die wedstrydgroep te hê.

“Dit maak nie saak wat ons rolle is of watter trui ons dra nie; ons speel vir die span en ons sal alles gee.”

Pollard het in die 2019-Wêreldbekereindstryd teen die einste Engelsmanne ʼn deurslaggewende rol in die Bokke se uiteindelike triomf gespeel.

Hy het 22 punte in die kragmeting aangeteken en sodoende die telbord vir die Suid-Afrikaners aan die gang gehou.

“ ʼn Mens kon destyds die teleurstelling op die gesigte van Engeland se spelers sien en ons kan onsself nou vir ʼn baie fisieke aanslag staal. Ons weet egter wat van ons verwag word [om die wedstryd te wen].”

Die Springbokke speel Saterdag om 21:00 teen die Rose en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chris ·

Die speler bring net iets met sy teenwoordigheid op die veld. Hy is ‘n uitmuntende speler. Hy speel goed agter ‘n wenpak. Hy is briljant agter ‘n verloorpak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.