Brullende Lions speel Loftus stil

Sanele Nohamba. Foto: GB Jordaan.

Die ondersteuners wat deur dik en dun by die Lions staan het vandag rede om fees te vier: Hul span het sopas die Bulls op Loftus Versfeld met 29 – 25 geklop!

Die Johannesburgers kon laas in Desember 2021 met ʼn Suid-Afrikaanse span in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) afreken, maar vandag het hulle ongetwyfeld ʼn maanhaar-vertoning gelewer.

Sanele Nohamba was ʼn doring in die tuisspan se vlees en sy opportunistiese spel – gekombineer met ʼn skerpskuttervertoning agter die skopkelkie – het gesorg dat hy 24 van die Lions se punte aangeteken het.

Dan het die besoekers die septer in die skrumsituasie geswaai, terwyl Marius Louw uitstekend verdedig het.

Die Lions het die eerste drie van die wedstryd gedruk toe Edwill van der Merwe die spoedkrane groot oopgedraai het, terwyl Nohamba ook die verdediging onkant met sy vinnige tikskoppie betrap het.

Die Bulls het weliswaar ook twee drieë gedruk – danksy Wandisile Simelane en S’bu Nkosi se goeie pogings – maar teen rustyd het die Johannesburgers ʼn lekker voorsprong van 23 – 13 geniet.

Edwill van der Merwe klop ’n verdediger. Foto: GB Jordaan.

Jake White het in die aanloop tot die kragmeting gesê dat die Bulls op die veld moet wys hoe desperaat hulle is om wedstryde te wen; die uitspeelstryde is immers net ʼn paar naweke weg.

Die tuisspan het inderdaad sterk in die tweede helfte begin met Sibongile Novuka wat sy sokkervaardighede uitgestal het om die bal óm die Lions-verdediger in Simelane se dankbare hande te stuur.

Morné Steyn, wat maar met sy skopradar in dié wedstryd gesukkel het, was ’n rukkie daarna met sy eerste suksesvolle doelskoppoging in die kol en die Bulls het skielik die voortou geneem.

Maar Nohamba se skopvoet het egter die telbord aan’t rol vir die Lions gehou, terwyl hulle op verdediging ook soos ʼn trop saam op die Bulls-spelers jag gemaak het.

Die Lions het na die 11de plek op die amptelike punteleer opgeskuif, terwyl die Bulls steeds in die sesde plek is.

  • Puntemakers:

Lions: Drieë: Edwill van der Merwe en Sanele Nohamba. Doelskoppe: Nohamba (2). Strafskoppe: Nohamba (5).

Bulls: Drieë: Wandisile Simelane (2), S’bu Nkosi en Johan Grobbelaar. Doelskop: Morné Steyn. Strafskop: Steyn.

  • VRK-punteleer:
  1. Leinster: 66 punte
  2. Stormers: 59 punte
  3. Glasgow Warriors: 49 punte
  4. Ulster: 49 punte
  5. Munster: 47 punte
  6. Bulls: 43 punte
  7. Sharks: 41 punte
  8. Connacht: 35 punte
  9. Cardiff: 34 punte
  10. Benetton: 34 punte
  11. Lions: 33 punte
  12. Edinburgh: 31 punte
  13. Scarlets: 29 punte
  14. Ospreys: 29 punte
  15. Dragons: 18 punte
  16. Zebre: 8 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.