Bulle haal die wind uit Cheetahs se seile

Die Bulle het voorlangs die septer begin swaai en veral Marco van Staden het sterk vertoon. Foto: GB Jordaan.

Dit is menslik om foute te maak. Maar op ’n rugbyveld sorg ’n span se ongedwonge foute dikwels dat hul teenstanders begin momentum opbou.

En dit is presies wat vandag op Loftus Versfeld gebeur het.

Ná ’n klipharde eerste helfte in Pretoria het die Blou Bulle in die laaste 40 minute met die wedstryd weggehardloop om die Vrystaatse Cheetahs met 40 – 13 te verrinneweer.

Die rustydtelling was 13 elk na ’n drie deur elke span, terwyl Morné Steyn en Frans Steyn se skopskoene die telbord aan die gang gehou het.

Die tweede helfte was egter ’n perd van ander kleur. Skielik het die Bulle die oorhand in die skrums begin kry en hul rolmaalbewegings het begin saam praat.

Foto: GB Jordaan.

Voeg daarby die bestendigheid van Morné Steyn en die opwinding wat Chris Smith (later in die wedstryd) tot die partytjie bring; en jy sit met ’n Bul-span wat maar eintlik reeds een hand op die Curriebeker-trofee het.

Daarteenoor het die Vrystaters in die tweede helfte hul blink begin tot die wedstryd weggesmyt.

Die een fout na die ander het gesorg dat hulle hard in hierdie helfte geval het. En – anders as wat Danie Botha in sy treffer aanbeveel – het hulle nie gou weer opgestaan nie.

Die Pretorianers het die laaste 40 minute se spel oorheers en hulle het die helfte met 27 – 0 beklink. Onder Duane Vermeulen en Jake White weet die tuisspan duidelik hoe om rugbywedstryde te wen.

  • Puntemakers:

Blou Bulle: Drieë: Embrose Papier, Marco van Staden (2), Chris Smith. Doelskoppe: Morné Steyn (2), Smith (2). Strafskoppe: Steyn (4).

Cheetahs: Drie: Reinhardt Fortuin. Doelskop: Frans Steyn. Stafskoppe: Steyn (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MakersMark ·

Bulle voorspelers het die Cheetah voorspelers stukkend gespeel in 2 de helfte. Marco en Duane was baie goed en Duane weer gewys hy is sonder vergelyke as kaptein en agsteman. En natuurlik – Morras skop hom oor want Morras mis nie.

Androclus ·

Bulle haal die wind uit Cheetahs se seile.
OOM THYS SE BULLE.=NOORD TRANSVAAL

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.