Bulle reeds op rugby se pad van verandering

rugbybal2.jpg

Argieffoto.

Suid-Afrika sal toenemend op spelers se liefde vir rugby moet begin staatmaak as hy wil verhoed dat die spel hier by ons doodloop.

Groot woorde, ja, maar gebaseer op die onwaarskynlikheid dat borgskappe vir individuele rugbyskole en skoletoernooie vorentoe volhoubaar sal wees en dat die skole-uitblinkers gevolglik in dieselfde mate vir die maklike aankoop deur bonde beskikbaar sal wees.

Ook is daar nou – en vir die voorsienbare toekoms – natuurlik nie meer soveel geld beskikbaar om jong talent te bekom nie en die sterre sal toenemend uit dié spelers kom wat ná skool vasbyt en klubrugby speel.

Argieffoto (Foto: The Beijinger)

Daar sal nog steeds op die skolestelsel staatgemaak word om rugby se voerband vir die toekoms te wees, maar ook dít mag stelselmatig verswak. Skole se borge begin reeds kop uittrek, en die verspotte bedrae vir die aankoop van spelers om ʼn toprugbyskool te kan wees – ja, selfs so jonk as 12 jaar in sommige gevalle! – sal weens ander prioriteite in die hek moet duik.

Sal die heen-en-weer-vlieg tussen die sterkste skole in die Wes-Kaap, Vrystaat, Gauteng en KwaZulu-Natal, en ook die groot skoletoernooie steeds in dieselfde mate as voorheen geborg word?

Die impak van die Covid-19-pandemie is veel, veel groter op die spel rugby as wat die gewone ondersteuners, hier en oorsee, hulle kan indink. Die sport se struktuur, soos ons hom vandag ken, gaan in die afsienbare toekoms heelwat moet verander om by die realiteite tred te hou.

En een van die eerste gevolge van die pandemie sal wees dat die beroepstrukture van Suid-Afrika se groot unies en franchise’e sodanig verander dat spelers vir beroepspanne, soos in die amateurdae tot hier teen die einde van die 1980’s, uit die klubs sal moet kom. Om dít suksesvol te maak, is daar die realiteit dat die amateurstelsels groter aandag sal moet kry – teen heelwat laer koste as die groot bedrae wat tans op die beroepspanne uitgegee word.

Nuwe klubstelsel

Die Blou Bulle het hierdie komende waarheid al voorverlede jaar ingesien en verlede jaar in die praktyk in hul nuwe klubstelsel begin toepas waar buur-unies se klubs ook aan die Volcano-liga begin deelneem het. Die gevolg was krag teen krag vanaf senior tot junior vlak en ʼn groot aantal junior spelers wat in die nasionale o. 20- en o. 21- provinsiale ligas vir verskeie unies gespeel het.

Vanjaar is daar reeds drie spelers vanuit hul klubs by die o. 21-groep ingesluit. Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie, meen dit is die logiese gevolg by ʼn unie wat vir sy onder ouderdom-spanne bekend is.

Strauss gee toe daar is nog baie werk, maar dit gee perspektief dat spelers dit tot op die hoogste vlak kan maak sonder dat hulle noodwendig op ʼn groot rugbyskool was en Cravenweek-rugby gespeel het.

Die Blou Bulle se klubs het duidelik reeds by die gedagte ingekoop.

Makazole Mapimpi. (AP Photo/Christophe Ena)

Groter aandag aan fiksheid en vaardighede word op klubvlak en veral aan jong spelers gegee in ʼn unie waar die klubs se afrigters al hoe belangriker word.

Die gevolg is dat die stappie boontoe vir dié gehalte jong klubspeler, wat nie ʼn jong ster was nie, makliker word – soos vir die Bulls se Springbok Marco van Staden; en in KwaZulu-Natal nog Bokke soos die losvoorspeler Marcell Coetzee en die Wêreldbeker-held Makazole Mapimpi.

Op franchise-vlak is daar ook manne soos die voormalige Lions-stut Jacques van Rooyen wat vir Pretoria Polisie gespeel het toe hy raakgesien is en vanjaar nog vir Bath uitgedraf het, en die veelsydige agterspeler Clinton Swart, wat tien jaar gelede vir die Blou Bulle se o. 21’s gespeel het, en toe by die Valke en Griekwas en Verblitz in Japan gedraai het.

Dít is waar sy afrigter Jake White hom raakgesien het en terug Pretoria toe gelok het.

Ja, dis ander tye met ander verpligtinge en doelwitte, maar dit sal darem baie lekker wees om weer onlangse Springbokke as afrigters sonder vergoeding op klubvelde betrokke te sien – iets wat die meeste van hulle nie ken nie! – en om die afgetrede sterre soos van ouds te sien hand bysit en raadgee. Manne soos die groot geeste Pa Pelser, Salty du Randt, Tommy Bedford, Hansie Brewis, Ferdie Bergh, Oupa du Piesanie, Willie Kahts, Buurman van Zyl, Klippies Kritzinger, Hugo en Etienne van As, Wim Hollander, Dries Maritz, Keith Oxlee, Doug Hopwood en diesulkes.

Selfs die grotes kry swaar

Ja, rugby en sy vele kompetisies oor die hele wêreld, die buitensporige spelerskontrakte, borgskappe en selfs ondersteuning is aan’ t verander.

Daar sal eenvoudig nie genoeg geld wees om al SA Rugby se beroepstrukture in stand te hou nie. Die land se rugby is met honderde miljoene rand deur die pandemie getref.

Hoewel Suid-Afrikaanse rugby relatief beter as van die ander grotes vaar, is die kansellasie van die Superreeks en die onttrekking van verskeie borgskappe, sake wat SA Rugby minder lekker laat slaap.

Soos sake nou staan is die kansellasie van borgskappe van die Cravenweek en die SuperSport-reeks en natuurlik die onsekerheid van waar die land se voorste franchise’e aanstaande jaar sal speel, rede tot kommer. Is ons nog welkom by Superrugby? Wil PRO14 ons hê en sal die Britse inperking teen die afskop middel aanstaande jaar nog geld?

Black Label se toetrede as Curriebeker-borg is die goeie nuus tussen die klomp ander onsekerhede soos die deurmekaarspul by die WP Rugbyunie (of eintlik sy maatskappy), die geldelike probleme by die Valke, Grens en die Oostelike Provinsie.

Engeland se rugbybase is hande in die hare ná Woensdag se aankondiging dat die VK ʼn verdere ses maande ingeperk gaan word. Hulle moet nou by die Britse regering om hulp aangeklop omdat hulle nou weer geen toeskouers by die veld mag hê nie.

England se Luke Cowan-Dickie word deur sy spanmaat Owen Farrell (regs) gelukgewens. Foto: (Juntaro Yokoyama/Kyodo News via AP)

Dit sal hulle nog verder in die skuld dompel. Die Sesnasies-toernooi vroeg aanstaande jaar is in gedrang, hulle het reeds sowat ʼn miljard rand verloor en daar was boonop ʼn groot skuldlas wat voor die pandemie al sy kop gewys het.

Sonder wedstryde op Twickenham sou hulle reeds sowat R2 miljard in die rooi gewees het, en hulle uitvoerende hoof, Bill Sweeney, het vroeër al voorspel dit sal hulle ses jaar neem om uit die skuldknyp te kom. Dit is nou met die ses maande se heringestelde inperking vererger.

Die Aussies se borg van 30 jaar, Qantas, het sy borgskap aan die Australiese Rugbyunie beëindig. Dit sal die reeds finansieel-sukkelende Aussies nog verder die afgrond in stoot.

Die Iere soek regeringshulp omdat hulle voor leë stadions moet speel en dus met sowat $ 30 miljoen beboet kan word. Hul voorsitter, Phillip Browne, het die afgelope week gesê totdat toeskouers in groot getalle toelaat word, is ons “rugbystruktuur wat oor 150 jaar opgebou is, onder yslike bedreiging.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.