Bulls blus Dragons se vuur

Marcell Coetzee op die aanval. Foto: GB Jordaan.

“Die Blou Bul weet nie van verloor af nie, die Blou Bul sukkel nie sy roer af nie.”

Min of meer almal ken die lirieke van Steve Hofmeyr se bekende Die Blou Bul-treffer en gisteraand kon dit met trots oor Loftus Versfeld se luidsprekers gespeel word.

Die Bulls het immers die Walliese Dragons met 55 – 20 in Pretoria verrinneweer om nog ’n wedstryd oortuigend op hul tuisveld te wen.

Kurt-Lee Arendse moet tans een van die beste rugbyspelers in Suid-Afrika wees en hy het die Dragons-verdediging gereeld laat bontstaan om twee uitstekende drieë te druk.

Lionel Mapoe het ook twee keer punte aangeteken, terwyl Arno Botha, Johan Grobbelaar en Marcell Coetzee se drieë op voorspeleroorheersing dui.

Kurt-Lee Arendse. Foto: GB Jordaan.

Die Dragons was egter nie net kanonvoer nie, hulle het gereeld skoor met die tuisspan se spelers gesoek, terwyl hulle self een of twee vinnige drieë gedruk het.

Die telkaart weerspieël egter die Bulls se kragspel en die selfvertroue waarmee hulle speel; hulle is tans sewende op die Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer en binne trefafstand van die Stormers en Edinburgh.

Ja, Ulster sal volgende week vir ’n groter uitdaging sorg, maar die Bulls-ondersteuners was gisteraand gelukkig in Pretoria.

Jy kan hulle maar gerus vra vir wie hulle skree.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Lionel Mapoe (2), Kurt-Lee Arendse (2), Arno Botha, Johan Grobbelaar, Marcell Coetzee en Zak Burger. Doelskoppe: Chris Smith (5) en Morné Steyn. Strafskop: Smith.

Dragons: Drieë: Rio Dyer, Jared Rosser en Sam Davies. Doelskop: Davies. Strafskop: Davies.

  • Jongste VRK-punteleer:
  1. Leinster: 55 punte
  2. Ulster: 50 punte
  3. Munster: 47 punte
  4. Glasgow Warriors: 45 punte
  5. Edinburgh: 43 punte
  6. Stormers: 38 punte
  7. Bulls: 37 punte
  8. Sharks: 36 punte
  9. Ospreys: 30 punte
  10. Connacht: 28 punte
  11. Scarlets: 27 punte
  12. Lions: 26 punte
  13. Cardiff: 23 punte
  14. Benetton: 23 punte
  15. Dragons: 11 punte
  16. Zebre: 2 punte.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.