Bulls en Stormers kies hul spanne

Deon Fourie sal die Stormers teen La Rochelle aanvoer. (Foto: GB Jordaan.)

Deon Fourie sal Saterdag heel voor uitdraf wanneer die Stormers teen La Rochelle in ʼn Kampioenebeker-kragmeting op die DHL-stadion te staan kom.

Manie Libbok en Herschel Jantjies is die skakelpaar terwyl Ruhan Nel en Damian Willemse die senterkombinasie is.

Op die plaasvervangersbank sal Brok Harris saam met Paul de Wet en Courtnall Skosan vir die nodige plofkrag sorg.

“Ons is beslis opgewonde. Dit is ons eerste wedstryd van die seisoen op die DHL-stadion en boonop nog teen die verdedigende kampioenspan. Ons het baie hard in die aanloop tot die kragmeting geoefen en hopelik kan ons die ondersteuners met ʼn goeie vertoning beloon,” het John Dobson, afrigter, gesê.

Die wedstryd begin Saterdag om 15:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Stormers: Warrick Gelant (heelagter), Ben Loader (regtervleuel), Ruhan Nel (binnesenter), Damian Willemse (binnesenter), Leolin Zas (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Herschel Jantjies (skrumskakel), Evan Roos (agtsteman), Hacjivah Dayimani (flank), Deon Fourie (kaptein en flank), Ruben van Heerden (slot), Adre Smith (slot), Neethling Fouché (stut), Joseph Dweba (haker) en Ali Vermaak (stut). Plaasvervangers: André-Hugo Venter, Sti Sithole, Brok Harris, Connor Evans, Ben-Jason Dixon, Marcel Theunissen, Paul de Wet en Courtnall Skosan.

  • Dan speel die Bulls later die aand teen Lyon in Frankryk.

Marcell Coetzee sal die span aanvoer, terwyl Henry Immelman sy buiging vir die Pretorianers sal maak nadat hy éérs 77 wedstryde vir Montpellier en tóé 25 wedstryde vir Edinburgh gespeel het.

Hy sal op regtervleuel uitdraf.

Lionel Mapoe en Harold Vorster is die senterpaar, terwyl Devon Williams die no. 15-trui sal dra.

“Dit gaan ʼn taai wedstryd teen Lyon weg van die huis wees. Ek weet hoe moeilik dit vir besoekende spanne is om wedstryde in Frankryk te wen, maar die spelers weet dat dit ook ʼn goeie geleentheid vir hulle is om te wys wat in hulle steek,” het Jake White gesê.

Die Bulls se direkteur van rugby het die kragmeting met ʼn toets vergelyk.

“Daar bestaan nie iets soos tweede geleenthede in die Kampioenebeker nie en ons sal by die toestande moet aanpas.”

Die wedstryd begin om 19:30 en dit sal ook op SuperSport uitgesaai word.

Bulls: Devon Williams (heelagter), Henry Immelman (regtervleuel), Lionel Mapoe (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), Sergeal Petersen (linkervleuel), Chris Smith (losskakel), Zak Burger (skrumskakel), Marcell Coetzee (kaptein en flank), Mpilo Gumede (flank), Marco van Staden (flank), Janko Swanepoel (slot), Deon Slabbert (slot), Mornay Smith (stut), Jan-Hendrik Wessels (haker) en Simphiwe Matanzima (stut). Plaasvervangers: Tiaan Lange, Dylan Smith, Kutha Mchunu, JF van Heerden, Merwe Olivier, Bernard van der Linde, Jaco van der Walt en Sebastian de Klerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.