Bulls jag goeie vertoning teen Ospreys

Madosh Tambwe is een van die Bulls se gevaarlikste spelers. Foto: GB Jordaan.

Die Verenigde Rugbykampioenskap mag dalk amper einde se kant toe staan, maar daar is steeds baie op die spel.

Die Bulls speel môreaand weg van die huis teen die Ospreys op die Swansea-stadion en ’n goeie vertoning kan hul posisie onder die topspanne verstewig.

Die Pretorianers is tans sesde op die punteleer, maar ’n plek onder die voorste vier spanne wink indien hulle die Walliese klub met ’n bonuspunt klop. Natuurlik sal ’n paar ander spanne ook moet saamspeel voordat hierdie droom ’n werklikheid kan word.

’n Nederlaag kan egter beteken dat hulle die groepfase in die sewende plek afsluit. ’n Omgesukkelde Munster-span wag dan moontlik in die kwarteindstryd.

Die Bulls het egter oorgenoeg skietgoed om hul man weg van die huis te staan.

Canan Moodie, David Kriel, Cornal Hendricks, Harold Vorster en Madosh Tambwe sorg vir ’n opwindende agterlyn, terwyl Elrigh Louw, Cyle Brink en Marcell Coetzee waarskynlik een van die beste lostrio’s in die reeks vorm.

Alun Wyn Jones. Foto: Marty Melville/AFP Photo.

Hulle sal egter nou teen ervare Walliese spelers soos Alun Wyn Jones, George North en Gareth Anscombe te staan kom.

“Dit is ’n voorreg om deel van die Bulls-opset te wees en ons wil weer een van die sterkste unies in wêreldrugby word. Ek is nog altyd dieselfde persoon; ek wíl wen,” het Jake White gesê toe hy destyds as die Bulls se direkteur van rugby aangewys is.

Sedertdien het die Curriebeker- en die Superrugby Unlocked-trofees hul pad na Loftus Versfeld gevind. White en Coetzee sal egter sorg dat daar genoeg staanplek vir nóg ’n beker in die vertoonkas is.

Die wedstryd begin môre om 21:10 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Bulls: Canan Moodie (heelagter), David Kriel (regtervleuel), Cornal Hendricks (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), Madosh Tambwe (linkervleuel), Chris Smith (losskakel), Zak Burger (skrumskakel), Elrigh Louw (agtsteman), Cyle Brink (flank), Marcell Coetzee (kaptein en flank), Ruan Nortje (slot), Walt Steenkamp (slot), Mornay Smith (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Jan-Hendrik Wessels, Simphiwe Matanzima, Robert Hunt, Janko Swanepoel, Arno Botha, Embrose Papier, Juan Mostert en Stedman Gans.

Ospreys: Michael Collins (heelagter), Luke Morgan (regtervleuel), George North (buitesenter), Owen Watkin (binnesenter), Keelan Giles (linkervleuel), Gareth Anscombe (losskakel), Rhys Webb (kaptein en skrumskakel), Morgan Morris (agtsteman), Jac Morgan (flank), Will Griffiths (flank), Alun Wyn Jones (slot), Adam Beard (slot), Tomas Francis (stut), Dewi Lake (haker) en Gareth Thomas (stut).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.