Bulls moet bibberweer in Lyon trotseer

Nizaam Carr is die Bulls-kaptein teen Lyon. Foto: GB Jordaan.

Vir die meeste plaaslike rugbyspelers wat die ovaalbal in sonnige Suid-Afrika skop en aangee, is sneeu ʼn nuutjie. Iets wat jy in ʼn reistydskrif of tydens ʼn kort vakansie by Afriski sien.

Maar vir die Bulls kan rugby in die sneeu ʼn werklikheid word wanneer hulle vanaand teen Lyon in ʼn Kampioenebeker-wedstryd in Frankryk te staan kom.

ʼn Vinnige Google-soeksessie wys dit is tans 0 °C in Lyon, terwyl sneeu later vandag ook ʼn definitiewe moontlikheid is.

Die Pretorianers het juis ʼn foto van die sneeubedekte speeloppervlak van die Stade Gerland op sosiale media gedeel.

Tog sal hulle in die bibberweer steeds vir ʼn vuurwarm vertoning teen die Fransmanne wil sorg. Chris Rossouw – wat die afrigtersleisels in Jake White se afwesigheid vashou – is opgewonde oor die uitdaging.

“Dit is ons eerste keer in Frankryk en dit is omtrent vir jou ʼn nuwe ervaring. Dit is tans baie koud in die sneeu en die ouens is lekker opgewonde,” het Rossouw gesê.

Volgens die Bulls-breier het dit vir eers ʼn rukkie opgehou sneeu, maar die snerpende koue sal steeds ʼn invloed op die wedstryd hê.

“Ons benadering sal egter dieselfde bly en ons wil goed speel in die belangrike oomblikke van die wedstryd.”

Hoewel hy verwag dat die toestande vir meer konserwatiewe rugby kan sorg, glo hy dat die Bulls-agterlyn steeds hul stempel op die wedstryd sal afdruk.

Kurt-Lee Arendse op die aanval. Foto: GB Jordaan.

“Iemand soos Kurt-Lee Arendse kan verdedigers op enige oppervlak laat les opsê en ek dink nie die koue sal hom noodwendig terughou nie.”

Nizaam Carr sal die Bulls vir hierdie wedstryd op die veld lei, terwyl Ruan Nortjé op die plaasvervangersbank is. Volgens Rossouw het dit alles met doeltreffende spelerbestuur te make.

“Dis alles deel van die plan om na die spelers se welstand om te sien en hulle te roteer. Ruan het elke liewe minuut van elke wedstryd gespeel waarin hy betrokke was; dieselfde kan van Harold Vorster gesê word. Hy het al baie rugby gespeel sedert hy sy terugkeer van ʼn besering gemaak het en dit is belangrik dat hy goed bestuur word.”

Maar met ʼn plek onder die agt topspanne op die punteleer wat wink, sal die Bulls met ʼn yslike vertoning vorendag wil kom.

Die wedstryd begin vanaand om 22:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Bulls: Kurt-Lee Arendse (heelagter), Canan Moodie (regtervleuel), Wandisile Simelane (buitesenter), Cornal Hendricks (binnesenter), David Kriel (linkervleuel), Johan Goosen (losskakel), Embrose Papier (skrumskakel), Nizaam Carr (kaptein en agtsteman), Cyle Brink (flank), Marco van Staden (flank), Janko Swanepoel (slot), Ruan Vermaak (slot), Francois Klopper (stut), Bismarck du Plessis (haker) en Simphiwe Matanzima (stut). Plaasvervangers: Johan Grobbelaar, Gerhard Steenekamp, Mornay Smith, Ruan Nortjé, Elrigh Louw, Zak Burger, Chris Smith en Lionel Mapoe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.