Bulls staal hulself vir taai Leinster-toets

Canan Moodie op die voorvoet teen Leinster op Loftus Versfeld. (Foto: GB Jordaan)

Die Bulls vaar eintlik nie te sleg teen Leinster nie: Twee oorwinnings in drie probeerslae vir ʼn wenpersentasie van 66% teen een van wêreldrugby se topklubspanne is sekerlik nie te versmaai nie.

Toegegee, die wegholsege op Loftus Versfeld was weliswaar teen ʼn span wat sonder die meeste van sy groot kanonne moes klaarkom, maar daar sal in die geskiedenisboeke aangeteken word dat die Bulls met Leinster afgereken het; nie Leinster “B” nie.

Maar Vrydag wag daar ʼn strawwe toets op die Pretorianers wanneer hulle teen die Ierse rugbyreuse op die RDS-arena in Dublin speel.

“Ons wil onsself ʼn kans gee om onder die voorste twee spanne te eindig want ons weet hoe belangrik tuisuitspeelwedstryde is. Die kragmeting is ʼn uitstekende maatstaf om te sien waar ons as ʼn groep lê – dit is ʼn wegwedstryd teen ʼn baie goeie rugbyspan,” het Jake White gesê.

Die Bulls se direkteur van rugby het die wedstryd met ʼn toets vergelyk.

“Baie van hul spelers was vir die Ierse span in aksie wat onlangs ʼn tweede Sesnasiestitel op ʼn streep ingeoes het, terwyl hulle vroeër ook die Springbokke in die Wêreldbeker-toernooi geklop het. Ek weet dat dit ʼn goeie toetswedstryd vir ons sal wees om te sien of ons met hulle kan saamgesels.”

Die rugbytrots van die Jakarandastad moes die afgelope Saterdag hard op Rodney Parade werk om ʼn bonuspuntsege teen die Dragons te behaal.

Johan Grobbelaar kon eers die besoekers se bonuspuntdrie in die 81ste minuut van die wedstryd druk.

Maar ondanks sy span se oënskynlike gesukkel is White tevrede dat hulle gedoen het wat hulle moes: Die Bulls het nóg ʼn rugbywedstryd gewen.

“Die Dragons het slim rugby gespeel en hulle het ons nie toegelaat om met enige ritme te speel nie. Ons probeer deesdae om die spel vinnig te maak en hulle dit juis geteiken; dit was ook moeilik om die bal uit die skrums te kry.”

“Ons het egter steeds ʼn manier gevind om die wedstryd te wen.”

Vrydag se wedstryd teen Leinster begin om 21:35 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

(Foto: GB Jordaan)

Vorige uitslae tussen die Bulls en Leinster:

22 April 2023: Bulls 62 – 7 Leinster

10 Junie 2022: Bulls 27 – 26 Leinster

25 September 2021: Leinster 31 – 3 Bulls

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.