Bulls, Stormers slaags op stampvol Loftus

Marcell Coetzee hardloop op die veld. (Foto: GB Jordaan.)

Daar gaan môre (Saterdag) nie eens plek vir ’n muis wees nie wanneer die Bulls teen die Stormers in ’n Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd op Loftus Versfeld speel.

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugby-unie, het pas bevestig dat kaartjies vir die kragmeting uitverkoop is.

Die Bulls het oudergewoonte ʼn opwindende agterlyn in Kurt-Lee Arendse, Devon Williams en Canan Moodie gekies, maar hulle het ook ʼn sterk pak voorspelers tot hul beskikking.

Marcell Coetzee en Ruan Nortjé sal vir die nodige leiding sorg, terwyl Wilco Louw, Johan Grobbelaar en Gerhard Steenekamp die skrums sal anker.

Daarteenoor kan die Stormers op die vaardighede van Deon Fourie, Manie Libbok en Damian Willemse staatmaak, maar daar is nog geen teken van Frans Malherbe nie.

Manie Libbok. (Foto: Hansie Linde)

“Ons sou baie daarvan gehou het om vir Frans deel van die wedstrydopset te maak, maar hy het nog ʼn bietjie tyd nodig om weer op sy beste te wees,” het John Dobson gesê.

Malherbe sukkel al geruime tyd met ʼn rugbesering.

Volgens die Stormers-afrigter beloof die komende tweestryd om ʼn aksiebelaaide affêre te wees.

“ ʼn Noord/Suid-derby voor ʼn stampvol Loftus Versfeld is iets waarna elke Suid-Afrikaanse rugbyliefhebber uitsien en ons is opgewonde om ons rol in die skouspel na die beste van ons vermoë te vertolk.”

Die wedstryd begin Saterdag om 17:05 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Bulls: Devon Williams (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Stedman Gans (buitesenter), David Kriel (binnesenter), Canan Moodie (linkervleuel), Johan Goosen (losskakel), Embrose Papier (losskakel), Marcell Coetzee (kaptein en agtsteman), Reinhardt Ludwig (flank), Marco van Staden (flank), Ruan Nortjé (slot), Ruan Vermaak (slot), Wilco Louw (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Simphiwe Matanzima, Akker van der Merwe, Francois Kloppers, JF van Heerden, Nizaam Carr, Zak Burger, Willie le Roux en Mpilo Gumede.

Stormers: Warrick Gelant (heelagter), Ben Loader (regtervleuel), Dan du Plessis (buitesenter), Damian Willemse (binnesenter), Leolin Zas (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Herschel Jantjies (skrumskakel), Hacjivah Dayimani (agtsteman), Evan Roos (flank), Deon Fourie (kaptein en flank), Ruben van Heerden (slot), Adre Smith (slot), Neethling Fouché (stut), Joseph Dweba (haker) en Sti Sithole (stut). Plaasvervangers: André-Hugo Venter, Brok Harris, Sazi Sandi, Salmaan Moerat, Ben-Jason Dixon, Marcel Theunissen, Paul de Wet en Sacha Feinberg-Mngomezulu.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Knap gedaan Bulle, nou besef dat ek eintlik n Stormer ondersteuner moes wees aangesien ek hou van die see, wyn , vis en ek kan ook nie rugby speel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.