Bulls wil Bears se tande trek

David Kriel is saam met Harold Vorster die Bulls se senterkombinasie. (Foto: GB Jordaan)

Die Kampioenebeker-kragmeting tussen die Bulls en die Bristol Bears begin oor net ʼn paar uur en die Pretorianers is in ʼn veglustige bui.

“Dit is eenvoudig. Ons is hier om te wen,” het Jake White, die Bulls se direkteur van rugby, gesê.

Volgens die 60-jarige afrigter, wat in 2007 die Webb Ellis-trofee saam met John Smit se Springbok-span omhoog gehou het, is dit ʼn deurslaggewende stryd vir al twee spanne.

“Dit is as’t ware ʼn maak-of-breek-wedstryd vir ons en die Bears. Die span wat vandag wen is so te sê verseker van ʼn plek in die uitspeelwedstryde van die toernooi.”

Die Bulls is tans derde in Groep 1 van die Kampioenebeker, terwyl Bristol die vyfde plek beklee. Al twee spanne het egter vyf ligapunte ná hul paar kragmetings.

“Dit is ʼn taai kompetisie. Om een wedstryd te wen en die ander te verloor het ons in die middel van die groep gelos en dié kragmeting sal vir ons meer duidelikheid gee oor waar ons kan eindig. Dit gaan ʼn definitiewe invloed op ons pad vorentoe hê – veral wat beplanning- en reisdoeleindes betref.”

Harold Vorster is weer fiks en hy sal saam met David Kriel in die middeveld diens doen.

“Harold se ervaring is van groot waarde en hy speel goed saam met David. Terselfdertyd maak Ruan Nortjé en Ruan Vermaak ook hul terugkeer en dit sorg vir bykomende diepte.”

Die wedstryd begin om 17:15 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Bulls: Devon Williams (heelagter), Sebastian de Klerk (regtervleuel), David Kriel (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), Sergeal Petersen (linkervleuel), Johan Goosen (losskakel), Embrose Papier (skrumskakel), Mpilo Gumede (agtsteman), Elrigh Louw (flank), Marcell Coetzee (kaptein en flank), Reinhardt Ludwig (slot), Ruan Vermaak (slot), Wilco Louw (stut), Jan-Hendrik Wessels (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Simphiwe Matanzima, Tiaan Lange, Kutha Mchunu, Ruan Nortjé, Deon Slabbert, Keagan Johannes, Chris Smith en Henry Immelman.

Bristol Bears: Max Malins (heelagter), Noah Heward (regtervleuel), Benhard Janse van Rensburg (buitesenter), James Williams (binnesenter), Gabriel Ibitoye (linkervleuel), AJ MacGinty (losskakel), Kieran Marmion (skrumskakel), Magnus Bradbury (agtsteman), Dan Thomas (flank), Steven Luatua (kaptein en flank), Joe Batley (slot), Josh Caulfield (slot), George Kloska (stut), Gabriel Oghre (haker) en Sam Grahamslaw (stut). Plaasvervangers: Will Capon, Jake Woolmore, Max Lahiff, Joseph Owen, Jake Heenan, Harry Randall, Virimi Vakatawa en Richard Lane.

  • Spanne se vorige uitslae:

Bulls:

53 – 27 teen Connacht

44 – 10 teen die Sharks

27 – 16 teen Saracens

28 – 29 teen Lyon

20 – 26 teen die Stormers

Bristol Bears:

20 – 36 teen Sale Sharks

21 – 22 teen Exeter Chiefs

36 – 21 teen Gloucester

36 – 34 teen Lyon

17 – 36 teen Bordeaux

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.