Curriebeker: Hou maar by die Blou

Curwin Bosch het met ’n hele paar stelskoppe skeef gekorrel. Foto: GB Jordaan.

Wanneer die Curriebeker-rapporte vandeesweek uitgedeel word, gaan daar ʼn hele paar afrigters met rooi gesigte voor die skoolhoof se kantoordeur staan.

Dis heel te verstane, want hoe kan ʼn mens opgewonde raak oor ʼn droewige jaar wat almal so gou as moontlik wil vergeet?

Met Covid-19 was dit koebaai Suidelike Halfrond met ʼn seisoen wat eensklaps van die wintermaande afna die middel van die somer geskuif word, geen toetsrugby nie, onsekerheid oor die toekoms, maande lank ingehok by die huis, geen toeskouers nie, geen oefeninge op Maandae nie, maskers, afsondering, kwarantyn, toetsing en bioborrels.

Jinne mense, die meeste van die spelers het nog nooit gewerk nie (behalwe om rugby te speel) en hoe moes hulle dit hanteer?

Dis hoekom die Curriebekerreeks afgewater was, opwinding soms ontbreek het en foute ingesluip het.

Dis ook hoekom dit heel gepas was dat die Blou Bulle twee bekers gewen het: die onsinnige Superrugby Unlocked-trofee en die Curriebeker – die eerste keer sedert 2009, want hulle was in 2020/’21 die beste span.

Nog nie rugby-adel nie, want vergelyk maar die span van 2009 met 14 Springbok-ysters wat gewoonlik uitgedraf het met nog ʼn paar op die bank. Legendes soos Bryan Habana, Fourie du Preez, Bakkies Botha en Victor Matfield op hul beste.

Altesame 58 drieë in 14 wedstryde en 36 punte in die eindstryd teen die Cheetahs.

Maar Jake White is besig om raak te vat, om talent te ontwikkel, om die nodige passie en tradisies weer terug te bring.

Die Sharks speel teen die WP in vanjaar se Currie-bekerreeks.

Die Bulle het bo-aan die puntelyste geëindig, hulle het die belangrikste wedstryde gewen; hulle het die grondslag vir die toekoms gelê.

Wanneer Johan Goosen, Marcell Coetzee, Francois Hougaard en dalk ook Damian Willemse hulle in die Jakarandastad gaan vestig, gaan dit nog moeiliker wees om op Fort Loftus koning te kraai.

Jong, vlugvoetige spelers soos David Kriel, Stravino Jacobs, Stedman Gans en Kurt-Lee Arendse het na vore getree.

Die skuif van Cornal Hendricks van vleuel na senter was meesterlik en as daar ʼn agterspeler van die jaar gekies word, behoort Hendricks dié toekenning lag-lag te kry.

Voorlangs het die Bulle se pak nooit teruggedeins nie. Hulle is nie een keer in die skrums oorheers nie (vergeet maar van die nederlaag teen die Pumas, want dit was nie hul beste span nie).

Dit het Marco van Staden, Arno Botha en Duane Vermeulen in staat gestel om te baljaar.

Terloops, Van Staden was in my boekie ongetwyfeld die voorspeler van die jaar.

Hoe het die res gevaar?

Haaie: Dit was ʼn op-en-af-seisoen en hoeveel keer moes Curwin Bosch hulle nie uit die moeilikheid skop nie? Die Haaie se toekoms lyk tog rooskleurig, want die miljoene wat die Amerikaners ingepomp het, gaan tot groot aankope lei. Die afrigterkorps gaan reeds aangevul word met Brendan Venter en Scott Mathie en hulle gaan die Westelike Provinsie se spelerspens leegstroop.

Leeus: Daar was opflikkerings en Tiaan Swanepoel, Steaan Pienaar, Wandisile Simelane, Vincent Tshituku en die veteraan Willem Alberts was die gom wat die span aanmekaar gehou het.

Westelike Provinsie: Die teleurstelling van die seisoen. Waar was die flair en ondernemende spel? As die WP nie sake in die raadsaal gaan uitpluis nie, wag daar ʼn groot uittog van spelers.

Vrystaat-Cheetahs: Wanneer die mat onder jou uitgeruk word, jou grootste planmaker, Ruan Pienaar, raak vroeg beseer en jou die spelerspens loop leeg, gaan dit enige span aan die hakskeen byt.

Pumas: Die oorwinning oor die Bulle was die kersie op die koek en lig maar die hoed vir Jimmy Stonehouse-hulle. Met ʼn beperkte spelersbegroting en ʼn ellelange beseringslys, het daar byna weekliks nuwe spelers na vore getree.

Griekwas: Wat kan jy sonder geld koop? Dit was ʼn uiters moeilike jaar met ʼn klein begroting en min diepte. Maar Griekwas het byna nooit boedel oorgegee nie, al was die oormag weekliks te veel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anton ·

Asseblief, net nie Willemse nie. Ons vra mooi, hou hom weg van Loftus af. :-)

MakersMark ·

Stem saam het nie die WP se slegte gewoontes nodig nie.

Jakes ·

Geluk aan die Bulle, hulle het dit beslis meer verdien as die Haaie. Dit was egter nie n goeie advertensie vir rugby nie en beide spanne het maar so-so vertoon. Curwin Bosch het sy span die beker gekos en ek dink dat hy word te hoog aangeslaan as n goeie lossakakel. Hy kan partykeer goed skop pale toe maar sy visie as n lossakakel is redelik beperk en maak hy te veel onnosele foute. Hy is n beter heelagter as n nommer 10. Notshe het ook swak vertoon. Wat kommer wek is die nuwe kompetisie wat binnekort afskop waar 4 SA spanne in die VK gaan deelneem. Ons standaard tans is maar power en sien ek swarigheid vir al 4 spanne van SA.

Frans ·

‘n Wedstryd van verlore kanse vir die Sharks.Waar hulle die Bulle vroeg moes huistoe gestuur het misluk Curwin Bosch net soos Boshoff in die 2014 eindstryd van die Leeus teen WP,toe die Leeus 21 punte verbrou het en die WP 19-16 gewen het.
Die feit bly staan in beide wedstryde het die losskakeld wat skopwerk aanbetref misluk.Gelukkig vir die Bulle is Bosch wat skopwerk aanbetref nie ‘n Naas nie anders het die trane in Pretoria gerol.
Die Bulle het verdien om te wen omdat hul ,hul kanse beter benut het.Ongelukkig vir SA spanne beskik die Noordelike halfronds spanne oor baie goeie stelskoppers wat jou vroeg begrawe as jy so baie kanse bied soos die spanne Saterdag.

Harry ·

As ek dit reg het het Naas ook op sy dag 9 uit 10 misgeskop. Moenie een van die SA spanne onderskat nie. Hoek stap hierdie bulle so maklik in ander spanne in.

Simon ·

Jinne Pieter, jy kon darem ‘n bietjie meer optimisties geraak het oor die moeilike rugbyjaar. Daar was rugby, daar was kompetisies, daar was jong ontluikende talent, daar is hoop. Die glas was half vol, pêlla, nie half leeg nie.

Anti-Verkramp ·

Volgens die skrywer was WP die terleurstelling van die seisoen. Tog het hulle 2de op die punteleer geeindig. Ek weet darem nie. Daar was in elk geval geen “flair” in hierdie kompetisie nie, deur geen span nie.

Frans ·

Ek is baie jammer om dit op skrif te stel maar as dit nie was vir die oordrag van punte van een kompetisie na ‘n ander nie sou die Bulle nie bo aan die punteleer geëndig het nie en was die Leeus die span wat meeste verbeter het,
Onthou die Bulle kon 23 punte oordra na die Curriebeker teen oor die 12 van die Leeus.Die Bulle het geen wedstryde gemis nie teenoor twee van die Leeus.Die Bulle het op 39 punte geëindig en die Leeus op 34.Dit beteken die Bulle hey 16 punte verdien in die Curriebeker teenoor die Leeus se 22.
So sê my waar moes die wedstryde eintlik gespeel gewees het as dit suiwer om die Curriebeker gegaan het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.