Deon opgewonde oor Munster-aanslag

Deon Fourie (regs) vier sy drie teen Harlequins. (Foto: Hansie Linde.)

Vir baie Stormers-ondersteuners is Deon Fourie hul eie superheld, die man wat eiehandig sy span weer op die voorvoet kan plaas wanneer hy die bal by ʼn afbreekpunt-skermutseling gaps.

Tog het die veteraanvoorspeler nog nie in ʼn Stormers-trui teen Munster gespeel nie en hy sien uit na Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd.

“Ek het vanjaar se wedstryd teen Munster misgeloop, terwyl ek ook nie deel van verlede jaar se aksie op Thomond Park-stadion was nie. Ek het nog nie teen hulle gespeel nie en is opgewonde om kragte teen hulle te meet,” het die 36-jarige Springbok gesê.

Hy staal homself ook vir ʼn opwindende tweestryd met Peter O’Mahony, Munster se kaptein en ʼn ervare internasionale ster.

“Peter is ʼn uitstekende speler en hoewel hy nie noodwendig gereelde omgekeerde balbesit bewerkstellig nie, weet hy presies hoe om ʼn span se ritme te ontwrig. Dit kan ʼn lekker uitdaging wees om hom in toom te probeer hou.”

Dan kan RG Snyman weer eens sake vir die Stormers bemoeilik.

Die 28-jarige slot het in ʼn groepfasewedstryd op die einste DHL-stadion sy man teen die Kapenaars op verdediging gestaan, met sy aangeewerk beïndruk en sy stempel in die lynstane afgedruk.

Graham Rowntree, Munster-afrigter, het ná afloop van daardie wedstryd gesê dat Snyman een van die Ierse span se steunpilare is en altyd met sy fisieke inklimspel beïndruk.

Fourie het die Wêreldbeker-wenner nog ʼn pluimpie gegee. Hy meen dat sy onvoorspelbaarheid ook een van die redes vir sy sukses op die speelveld is.

“Ek dink nie ek het al vantevore teen RG kragte gemeet nie. Hy is ʼn massiewe speler, terwyl sy aangee- en hardloopspel uitstekend is. Ons sal beslis ons storie moet ken om hom in sy spore te stuit.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.