Dié Ford ‘drop’ sy span nie sommer

Engeland se George Ford laat waai met een van sy skepskoppogings. (Foto: Nicolas Tucat/AFP)

Waar Suid-Afrikaners gereeld rondom die braaivleisvuur stry oor watter bakkie die beste en betroubaarste is, is daar vir Engeland se Steve Borthwick net een wenner: ʼn Ford.

George Ford het immers al die Rose se punte in hul onwaarskynlike Wêreldbeker-oorwinning van 27 – 10 teen Argentinië in Marseille aangeteken.

Ná Engeland se ploetervertonings in aanloop tot die rugbyskouspel in Frankryk het niemand die span veel van ʼn kans teen die vurige Argentyne gegun nie.

Boonop het Tom Curry se rooi kaart baie vroeg in die wedstryd ook vir elke doemprofeet en Britse joernalis meer skietgoed gegee om die Rose op sosiale media plat te trap.

Maar die 30-jarige losskakel het ander planne gehad.

Skepskophelde en Wêreldbeker-rugbytoernooie is onlosmaaklik deel van mekaar. Dink aan Joel Stransky teen die All Blacks, Jannie de Beer teen Engeland en Jonny Wilkinson teen Australië.

Nou kan jy maar Ford se naam by dié lys voeg.

Hy het drie keer die Argentyne met sy bal-op-die-grond-laat-hop-en-skop-vaardighede onder druk geplaas – gʼn wonder Borthwick kon ná die wedstryd glimlag nie.

“George was manjifiek vanaand,” het die Engeland-afrigter na afloop van die kragmeting gesê.

“En ek praat nie net nou van sy geleerde skopvoet wat die telbord aan die gang gehou het nie, maar ook sy kalmte op die veld en die wyse waarop hy die spel dikteer het.”

Wat sy prestasie meer merkwaardig maak, is dat hy maar min speelkans kry terwyl Owen Farrell die kapteinskapleisels vashou.

Maar Farrell se têkkeltegniek het hom weer in die sop laat beland en Ford het sy kans met al twee hande aangegryp terwyl sy kaptein geskors is.

Skielik is hy Engeland se groot held en Borthwick kan nie ophou om sy lof te besing nie.

“George is ʼn baie veelsydige speler. Hy kan met die bal hardloop, met uitstekende aangee- en skopwerk vorendagkom, terwyl hy helder in drukkokersituasies kan dink. Dit het gelyk of hy oor soveel meer tyd as ander spelers beskik toe hy daardie skepskoppe oor die dwarslat gejaag het. Dit is kenmerkend van ʼn topgehalte speler.”

  • Puntemakers:

Engeland: Strafskoppe: George Ford (6). Skepskoppe: Ford (3)

Argentinië: Drie: Rodrigo Bruni. Doelskop: Emiliano Boffelli. Strafskop: Boffelli.

  • Vandag se bepalings:

13:00: Japan teen Chili

17:45: Suid-Afrika teen Skotland

21:00: Wallis teen Fidji

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.