Die rugbyglas is half vol vir Steve

Engeland se Steve Borthwick. (Foto: Glyn Kirk/AFP)

Thomas Ramos het Engeland-harte gebreek toe hy die wenstrafskop in die doodsnikke van die finale Sesnasies-kragmeting van 2024 oor die dwarslat gejaag het.

Die telbord wys dat Frankryk die kragmeting met 33 – 31 in Lyon gewen het, maar Steve Borthwick glo dat die wedstryd allesbehalwe ʼn nederlaag vir sy span was.

“Ons is nie vanaand geklop nie, ons wedstryduurglas het net leeggeloop. Almal kon sien hoe die ouens hul bes probeer het om weer punte aan te teken; iets wat beslis binne hul vermoë is. As ʼn mens na die span se ingesteldheid en veggees kyk, kan jy sien dat die spelers nie sommer handdoek ingooi nie,” het die Engeland-hoofafrigter gesê.

Volgens Borthwick hanteer sy spelers deesdae die druk van ʼn rugbywedstryd baie beter.

“Dit is  ʼn nuwe span en ons handhaaf ʼn baie goeie balans tussen ervaring en jong, opwindende spelers. Ja, ons gaan foute maak, maar die manne is gereed vir enige uitdaging. Ons het die afgelope paar weke gewys dat ons weer met die topspanne kan saamgesels.”

“Ons wil nie net mededingende rugby speel nie, ons wil ook wedstryde wen. Dié kragmeting was beslis ʼn tree in die regte rigting.”

Galthie het ook hoop vir die toekoms

Met die oorwinning het Frankryk die toernooi in die tweede plek afgesluit nadat die span sleg in sy openingswedstryd teen Ierland verloor het.

Om dan nie eens van die onverwagse gelykopuitslag teen Italië te praat nie.

“Ons kan beslis beter doen, maar ons het gewys dat ons vir punte op die rugbyveld kan veg. Dié span los nie sommer sy teenstanders uit nie. Dit is die einde van die Sesnasies-toernooi, maar terselfdertyd ook die begin van iets nuut vir Franse rugby,” het Galthie gesê.

Finale Sesnasies-punteleer:

  1. Ierland: 20 punte ná vyf wedstryde
  2. Frankryk: 15 punte ná vyf wedstryde
  3. Engeland: 14 punte ná vyf wedstryde
  4. Skotland: 12 punte ná vyf wedstryde
  5. Italië: 11 punte ná vyf wedstryde
  6. Wallis: 4 punte ná vyf wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.