Dit is Muller-tyd!

Pieter Muller en James Small. Dié twee Bokke het saam hul toetsbuiging gemaak. Foto: Verskaf.

Soms, wanneer die nostalgie jou tref en jy nie meer lus is om na die heruitsendings van 7de Laan op SABC Encore te kyk nie, soek jy beeldmateriaal van jou laerskoolrugbyhelde op YouTube.

En die speler wat vir een van die lekkerste driedrukkeurspel-videos op die internet sorg, is die oud-Springboksenter Pieter Muller.

Die 50-jarige Muller het vandag sy eie onderneming, maar so 25 jaar gelede was sy werk om rugby te speel. En mensig, hoe góéd was hy nie in sy ambag nie!

Hy het destyds sy Bokdebuut in 1992 teen die All Blacks voor 72 000 toeskouers op Ellispark in Johannesburg gemaak. Hoewel die Bokke met 24-27 verloor het, het die jong Muller sommer vroeg sy stempel afgedruk en hy het die tuisspan se tweede drie van die wedstryd gedruk.

“Daardie drie teen die All Blacks op Ellispark is sonder enige twyfel die gunsteling-drie van my loopbaan,” het hy Donderdagoggend aan Maroela Media gesê.

Spelers droom altyd daarvan om ’n impak in hul debuutwedstryd te maak en ʼn mens kan nie eintlik meer van iemand verwag as om ’n drie teen die All Blacks in sy eerste wedstryd te druk nie.

Die legendariese Danie Gerber was Muller se sentermaat in sy debuuttoets en in sy laaste wedstryd vir die Bokke – in die 1999-Wêreldbeker teen die einste Kiwi’s op die Millennium-stadion – was Robbie Fleck aan sy buitekant.

“Fleckie was baie onvoorspelbaar, maar hy het oor daardie X-faktor beskik wat van hom ’n baie gevaarlike speler gemaak het. Ek het egter die beste verstandhouding met André Snyman gehad.”

Hy het net ’n handvol drieë – anders as in sy eersterangse loopbaan – in sy 33 toetse gedruk, maar hy was ’n bittergevaarlike speler met ’n goeie aanvoeling vir die spel.

“Ek terg altyd dat ek ouens soos Bushi (James Small) en Stefan Terblanche bekend gemaak het omdat ek al die drieë vir hulle gegee het!” sê hy laggend.

Hier in Suid-Afrika het hy onder meer vir die Vrystaat en die Haaie gespeel, terwyl hy oorsee ’n draai in Cardiff en Toulouse gemaak het, terwyl hy ook League-rugby in Australië gespeel het.

Maar die beste span vir wie hy gespeel het, was die Bokspan onder Nick Mallet toe hulle 17 internasionale toetse agtereenvolgens gewen het.

Hy was baie betrokke by die SA Legendes. Foto: Howard Cleland/SA Legends.

“As ’n span was ons baie ná aan mekaar: Ons het saam gejol en saam geparty – dankie tog daar was nie destyds sosiale media nie! Ons sou enigiets vir mekaar op die veld doen en dit is beslis iets wat ’n span nodig het,” sê hy met trots in sy stem.

Dink hy die Bokke gaan in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi goed vertoon?

“Jong, Rassie (Erasmus) is altyd besig met iets en ek dink dat selfs die span wat hy vir die Aussie-toets die naweek gekies het, is glad nie te sleg nie. Hy wil waarskynlik kyk wat daar in oorsese spelers soos Frans Steyn en Marcell Coetzee steek.”

Hy mag dalk nie oor die drieë van ’n Habana, die flair van ’n Fleck of die heldestatus van ’n Pienaar beskik nie, maar Pieter Muller wás ’n Springbok. En ’n bitter goeie een daarby.

  • Die Springbokspan in Muller se toetsdebuut in 1992 teen die All Blacks op Ellispark: Theo van Rensburg, James Small, Danie Gerber, Pieter Muller, Pieter Hendriks, Naas Botha, Robert du Preez, Jannie Breedt, Ian MacDonald, Wahl Bartmann, Adolf Malan, Adri Geldenhuys, Lood Muller, Uli Schmidt, Hein Rodgers.
  • Die Springbokspan in sy laaste toets in 1999 teen die All Blacks op die Millennium Stadion: Percy Montgomery, Breyton Paulse, Robbie Fleck, Pieter Muller, Stefan Terblanche, Henry Honiball, Joost van der Westhuizen, Andre Vos Andre Venter, Rassie Erasmus, Mark Andrews, Krynauw Otto, Cobus Visagie, Naka Drotské en Os du Randt.
  • Sy broer is die legendariese Vrystater, Helgard Muller. “Helgard is so ses jaar ouer as ek en hoewel ons glád nie dieselfde lyk nie, het ons dieselfde ma en pa,” het hy geskerts.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Liza ·

Legend! Dankie vir die mooi artikel. Dit voel so laaank terug, neem aan ons word saam ons helde oud!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.