‘Dit is spesiaal om ’n Cheetahs-trui oor jou kop te trek’

Chris Massyn (6) en sy Cheetahs-spanmaats. Foto: Verskaf.

Chris Massyn se rugbypad het al vir ’n paar lekker kuipstoppe gesorg. Die voormalige Hoërskool Monument-skoolster was aan stuur van sake toe Tukkies en Maties hul onlangse Varsitybeker-titels ingeoes het en hy het ook seniorrugby-ervaring by die Bulle en WP opgedoen.

Maar die talentvolle jong losvoorspeler het ’n nuwe rugbytuiste by die Vrystaatse Cheetahs in Bloemfontein gekry; ’n unie wat vir sy gasvryheid, ryke rugbygeskiedenis en unieke speelstyl bekend is.

“My lekkerste wedstryd was ongetwyfeld my eerste wedstryd vir die Cheetahs teen die Kings in Bloemfontein. Die passie van die ondersteuners en die brullende Harley Davidson-motorfietse is ’n belewenis en my ouers het ook van Johannesburg deurgery om die wedstryd by te woon,” het Massyn vir Maroela Media gesê.

Van sy ander hoogtepunte was die Pro14-kragmetings teen Leinster en Ulster in Ierland. En dit is juis daardie wedstryde wat nou in gedrang kan wees.

Met die Bulls, Stormers, Lions en Sharks wat die Superrugby-toernooi vaarwel kan roep, sal daar dalk nie plek vir die Cheetahs in die vergrote Pro16-reeks wees nie.

Massyn in aksie. Foto: Verskaf.

Ten tyde van die onderhoud was daar nog niks amptelik oor die Cheetahs se toekoms besluit nie, maar dit is ’n frustrerende tydperk vir die spelers, bestuur en ondersteuners.

“Dit is te verstane dat sekere besluite geneem moet word om vorentoe te beweeg, maar dit sal onregverdig wees om die Vrystaat uit te skop juis omdat hulle ook aan die kortste ent in die Superrugby-reeks getrek het. ”

Massyn hou van die idee dat prestasie in die Curriebeker-reeks as maatstaf gebruik word om jaarlikse deelname aan die Pro16-toernooi te verseker.

Volgens dié losvoorspeler is die Vrystaat ongelooflik belangrik vir Suid-Afrikaanse rugby – veral as voedingsbron.

Grey Kollege is volgens talle ranglyste die beste rugbyskool in die land en het al vir Springbokke soos Morné du Plessis, Ollie le Roux, Bismarck du Plessis en Frans Steyn gesorg. As jy aan Vrystaat-rugby raak, raak jy dus ook aan sy sterk skole.

“Die Vrystaat wíl jong talent ontwikkel. Ek sal hulle ewig dankbaar wees vir al die speelgeleenthede wat hulle vir my gee. As die nie vir die Vrystaat was nie, sou ons waarskynlik nie eens van baie top-spelers geweet het nie.”

Frans Steyn. Foto: Twitter.

Massyn sê dat die Cheetahs se tradisies en geskiedenis vanself spreek. Spelers soos Ruan Pienaar en Frans Steyn is juis weer terug in Vrystaat-kleure ná suksesvolle loopbane oorsee, terwyl Bismarck du Plessis ook gesê het dat hy binne ’n japtrap na Bloemfontein sal terugkeer.

“Dit is spesiaal om ’n Cheetahs-trui oor jou kop te trek. Ons speel ’n unieke tipe rugby en ons ondersteuners is ons trots – hulle staan saam met jou deur dik en dun.”

Massyn-hulle speel Saterdag teen die Griekwas en hy kan nie wag om weer sy tokse in ’n wedstryd-situasie te dra nie.

“Om voor ’n leë pawiljoen te speel sal ongetwyfeld ’n invloed hê. Maar om net weer rugby te speel, beteken vir ons so baie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.