Dit was ’n broekskeur-affêre, maar die Kaap bly Hollands

Foto: Hansie Linde.

As Christia Visser ooit na ’n alternatiewe musiekvideo vir haar Die deur-treffer sou soek, kan sy gerus beeldmateriaal van vandag se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd tussen die Stormers en Ulster in Kaapstad gebruik.

Want die tuisspan het inderdaad so ’n bietjie die deur vir die Ierse klub oopgelaat en dit was so amper ’n hengse gemors. Tog het hulle steeds genoeg gedoen om die wedstryd met 23 – 20 te wen.

Paul de Wet en Leolin Zas het vroeg die puntekrane vir die Stormers met twee puik drieë oopgedraai, terwyl Manie Libbok se skopskoen ook die telbord aan die rol gehou het.

Die Kapenaars het binne ’n japtrap ’n voorsprong van 14 – 0 opgebou, maar hulle het die voet van die versnelpedaal gehaal, terwyl Ulster met al meer selfvertroue begin speel het.

Hulle het selfs in die 79ste minuut van die kragmeting gedink dat hulle die wedstryd gewen het, maar die skeidsregterspan het beslis dat Callum Read beheer oor die bal verloor het toe hy oor die doellyn geval het.

Foto: Hansie Linde.

Tog het John Cooney steeds vir ’n goeie vertoning agter die skopkelkie gesorg, Mike Lowry was ’n doring op die aanval en Duane Vermeulen was maar Duane Vermeulen.

Die Springbok-agtsteman het sy eerste wedstryd vir Ulster in Suid-Afrika gespeel en hy was oudergewoonte vreesloos by die afbreekpunte, terwyl hy ook vir ’n paar goeie duikslae gesorg het.

Maar die Stormers se Evan Roos kan net so trots wees op sy vertoning en die jong Kapenaar het ’n blink toekoms wat op hom wag.

’n Paar maande gelede sou die Kapenaars waarskynlik die wedstryd verloor het as hulle hulself in ’n soortgelyke situasie bevind het, maar die vreugdevure brand tans in Kaapstad.

Ulster lê immers tweede op die VRK-punteleer.

  • Puntemakers:

Stormers: Drieë: Paul de Wet en Leolin Zas. Doelskoppe: Manie Libbok (2). Strafskoppe: Libbok (3).

Ulster: Drieë: Marty Moore en Stuart McCloskey. Doelskoppe: John Cooney (2). Strafskoppe: Cooney (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SjN ·

Die stormers kan gelukkig wees oor die beslissing in die doodsnikke.

Manie ·

Callum Read het die bal verloor, dalk eerder goeie verdediging?

Boer ·

Dit is tyd dat die geluk na ons kant toe ook moet kom wat toe ons oorsee gespeel het was die refs nie in die SA spanne se kant nie.

Manie ·

Korrek, ek soek nie verkeerde of tuis beslissings nie, dus was die Stormers na my mening nie bevoordeel nie, die duikslag wat veroorsaak het dat die bal vorentoe verloor was, moet eerder geprys word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.