Du Plessis brand om te speel ná beseringsterugslae

Jacques du Plessis en Jake White. (Foto: Blou Bulle/ Facebook)

Ondanks ʼn paar beseringsterugslae is Jacques du Plessis oorgehaal om steeds ʼn verskil op die rugbyveld te maak. Hy hoop nou om deel te wees van die span wat volgende Saterdag die Stormers op Loftus pak.

Nadat ʼn achillesbesering hom vir ʼn hele paar maande langs die kantlyn gehou het, het die hoopvlam helder gebrand toe hy verlede Desember uiteindelik weer ʼn kans in die Bulls-trui teen Lyon gekry het.

Maar die tweede helfte het skaars begin of die groot losvoorspeler moes wéér die veld verlaat; hierdie keer met ʼn gebreekte regterhand.

“Ek het in ʼn stadium my bestaan so ʼn bietjie bevraagteken!” het die oudleerder van Hoërskool Ermelo op die Bulls se amptelike YouTube-kanaal geskerts.

Hy het egter gou weer ernstig begin gesels.

“Ek het gewonder of ek iets verkeerd doen – waarom gebeur hierdie dinge? Jy het immers sekere verwagtinge, ander mense het ook verwagtinge, en wanneer jy gereeld op die krukkelys is, begin hierdie dinge aan jou vreet.”

Volgens Du Plessis was hy bang dat hy die Bulls in die steek laat.

“Maar wat kan jy doen? Ek weet dat dit nie my skuld is nie; dit is nie asof ek daarvoor vra om beserings op te doen nie. Ek werk ongelooflik hard en ek dink nie almal is altyd bewus van wat agter die skerms gebeur nie.”

Maar waar ander spelers dalk sou moed verloor, het Du Plessis ʼn wilsbesluit geneem om sterk te staan. Die jongste terugslag sal hom óók nie onderkry nie.

“Ek het ná die Lyon-wedstryd sleg gevoel, maar teen die volgende middag het ek vir myself gesê om vorentoe te kyk. Daar is altyd ʼn rede waarom dinge gebeur.”

Nou – meer as ʼn maand ná die besering – is hy weer gereed vir aksie. Sy hand voel goed wanneer hy saam met die Bulls aan sy lynstaanwerk skaaf of in die gimnasium sweet.

“Vir die afgelope paar seisoene het dinge nie heeltemal volgens plan verloop nie. Ek het ʼn wedstryd of twee gespeel en dan moes ek dinge weer van langs die veld dophou. My doelwit is om konstant deel van die aksie te wees; dit is al hoe jy ʼn verskil maak.”

Hy het sy eerste wedstryd vir die Bulls in 2013 gespeel, waarna hy in 2015 sy tasse vir Montpellier gepak het. Maar ná meer as 100 wedstryde vir die Franse klub het hy in 2021 ʼn kontrak onderteken wat hom vir drie jaar in Pretoria sal hou.

Jake White is ongetwyfeld opgewonde om ʼn speler van Du Plessis se kaliber na Loftus Versfeld terug te lok.

“Sy vermoë om as ʼn losvoorspeler of ʼn slot te speel gee vir ons goeie diepte onder die voorspelers. Jacques is ʼn uiters fisieke speler wat nie nonsens duld nie en ons sien uit na wat hy op die veld kan doen,” het die Bulls se direkteur van rugby destyds gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.