Duane Vermeulen sluit by Bokke aan

Duane Vermeulen (Twitter @duane_vermeulen)

As Alun Wyn Jones dit kan doen, dan kan ysterman Duane Vermeulen dit ook doen.

Die Springbokke het in ʼn verklaring aangekondig Vermeulen het by die Bokkamp aangesluit. Hy het die eerste twee toetse weens ʼn enkelbesering misgeloop. Hy het ʼn rehabilitasieprogram ondergaan ná ʼn operasie twee maande gelede.

Volgens die Bokkamp het hy só goed herstel dat hy opgeroep kan word. Afrigter Jacques Nienaber het gesê Vermeulen sal Sondag by die span aansluit en so gou moontlik ʼn mediese ondersoek ondergaan.

“Ons sal dit nooit waag met ʼn speler wat nie 100% fiks is nie, maar hy bring ervaring na die span en dit sal uitstekend wees om hom by ons te hê.”

Vermeulen is uitstekend met skoppe uit die lug vat en dis juis een van die aspekte waarmee die Bokke in die verloortoets gesukkel het.

Jones, kaptein van die Britse en Ierse Leeus, het halfpad deur die toer by die span aangesluit nadat gemeen is ʼn skouerbesering sou hom vir die hele reeks op die kantlyn hou. Dit is as merkwaardig beskou dat hy so vinnig herstel het.

Die 35-jarige Vermeulen was ʼn waterdraer vir die Bulle in onlangse Curriebeker-wedstryde en volgens afrigter Jake White was hy aktief betrokke by oefeninge.

White was nie heeltemal oortuig Vermeulen is reeds gereed om weer te speel nie. “Sy rehabilitasie vorder baie goed en as dit so voortgaan is hy waarskynlik drie tot vier weke weg van speel af.”

Die Bokke sal Maandag meer weet oor die besering wat Pieter-Steph du Toit Saterdag opgedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Snuffelgids ·

Warren, dis nie goeie nuus vir jou nie. Yster Bok gaan hulle verniel…Jaaa nog

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.