Duane wil Wêreldbeker toe

Suid-Afrika se Duane Vermeulen. (Foto: Charly Triballeau/AFP)

Toe die Springbokke vier jaar gelede in Jokohama die Webb Ellis-trofee vir die derde keer omhoog gehou het, is Duane Vermeulen as speler van die wedstryd aangewys.

Nou, vier jaar, ʼn trektog na Europe en terug, beserings en ʼn wêreldwye pandemie later, wil die losvoorspeler steeds tot die span se sukses op rugby se grootste verhoog bydra.

Vermeulen sal 37 jaar en 69 dae oud wees wanneer die Springbokke hul openingswedstryd van die uitkloptoernooi teen Skotland in Marseille speel.

Toegegee, om ʼn speler vir sy ervaring en reputasie te kies kan met tye lelik boemerang – vra net vir die Proteas wat op ʼn beseerde Dale Steyn en ʼn sukkelende Hashim Amla in die vorige Wêreldbeker in Engeland gesteun het.

Maar “Thor” het tot onlangs nog sy teenstanders in die kleure van Ulster opgedreun.

Volgens die amptelike Verenigde Rugbykampioenskap-statistieke het Vermeulen kwalik met ʼn duikslag misgetas, terwyl hy ook ʼn hele paar keer omgekeerde balbesit bewerkstellig het.

Steven Kitshoff en Duane Vermeulen vier Suid-Afrika se oorwinning teen Nieu-Seeland. Foto: Patrick Hamilton/AFP.

En soos wat almal weet, is hy ʼn speler wat vir die belangrike oomblikke in wedstryde sorg – soos wat daardie eindstrydvertoning in Japan en sy welkome ingryping teen die All Blacks in Queensland getuig.

“Ek het al ʼn ver pad saam met Rassie [Erasmus] en Jacques [Nienaber] gestap en ek het baie respek vir hulle as afrigters. As ek waarde tot die span kan voeg, sal ek beslis veg vir ʼn plek in die span,” het Vermeulen in ʼn onderhoud met RugbyPass gesê.

Volgens die Springbok het sy doelwit kwalik in die tydperk tussen die twee Wêreldbeker-toernooie verander.

“Ek wil deel wees van die Bok-span en ek wil hulle by die Wêreldbeker verteenwoordig.”

Hy het egter begrip daarvoor dat dinge verander het. Jasper Wiese speel deesdae ʼn barshou in die nommeragttrui, terwyl Elrigh Louw en Evan Roos ook gereed staan om Vermeulen se skoene vol te staan.

“Ek weet dat my rol [in Frankryk] dalk anders kan wees. Ek kan dalk in die groep wees, maar nie in die opdrafspan nie. Dit is oukei – ek moet net so hard as moontlik werk om daardie rol ook na die beste van my vermoë te doen.”

  • Vermeulen het sy Springbok-buiging in 2012 teen Australië gemaak en hy het al in meer as 60 toetse vir Suid-Afrika gespeel.

Maar sedert die 2019-eindstryd was hy nog net 11 keer in die Groen-en-Goud te siene.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Leon ·

Het gehoor hy gaan vir Naas Botha en Victor Matfield probeer oortuig om ook weer saam te spel. Hul dan in dieselfde ouderdoms klas

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.