Dupont begin met sy Olimpiese opleiding

Antoine Dupont oefen saam met die Franse sewesgroep. (Foto: Franck Fife/AFP)

Antoine Dupont het amptelik sy sewesrugbystewels aangetrek.

Frankryk se rugbytalisman – hy is die kaptein van die Hane in die vyftienmanweergawe van die spel terwyl hy in 2021 as Wêreldrugby se speler van die jaar aangewys is – het Woensdag saam met die nasionale sewesspelers begin oefen.

Hy sal deel van die blitsformaat-aksie in Vancouver (23-25 Februarie) en Los Angeles (2-3 Maart) wees. Die Olimpiese Spele begin amptelik op 26 Julie in Parys.

Volgens Dupont is hy oorgehaal om medaljesukses te smaak.

“Vir die meeste sportliefhebbers is die Olimpiese Spele ʼn amper mitiese gebeurtenis. Dit beloof om ʼn groot partytjie in Frankryk te wees.”

Om sy sewesdroom te verwesenlik sal die talentvolle skrumskakel derhalwe Frankryk se Sesnasies-veldtog moet misloop.

“Wanneer ʼn mens in een kompetisie verloor, wil jy iets anders doen om weer te wen,” het Dupont in ʼn onderhoud met die BBC gesê.

Hy verwys natuurlik hier na Frankryk se Wêreldbeker-teleurstelling nadat die Springbokke die Hane met 29 – 28 in die kwarteindstryd op die Stade de France geklop het.

Tog weet hy dat sy sewespad nie noodwendig ʼn maklike een gaan wees nie.

“Ek dink die laaste keer wat ek sewesrugby gespeel het, was op o. 18-vlak. Tog is dit steeds rugby en daar is baie ooreenkomste [met die vyftienmanweergawe]. Ek sal moet hard werk om mededingende spel in al die kompetisies op te dis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.