Dupont hervat volle kontak-oefening voor Bok-stryd

Frankryk se Antoine Dupont. (Foto: Franck Fife/AFP )

Frankryk se rugbykaptein, Antoine Dupont, is ʼn groot stap nader daaraan om in hierdie naweek se Rugbywêreldbeker-kwarteindstryd te speel nadat die chirurg wat vroeër die operasie aan sy gekraakte wangbeen gedoen het, hom Maandag gereed verklaar het om volle oefening te hervat.

Die 26-jarige skrumskakel het die besering in ʼn verwoede plettervat in die wedstryd teen Namibië opgedoen en het op 22 September ʼn operasie daarvoor ondergaan. ʼn Week later was hy terug in die Franse kamp om ligte oefening te hervat.

“Ná sy geskeduleerde besoek aan die chirurg wat die operasie uitgevoer het, het Antoine Dupont toestemming gekry om rugbyoefening van vandag [Maandag] te hervat,” het die Franse rugbyvereniging bekend gemaak.

Sedert hy weer by die span aangesluit het, het Dupont vinnig van fiets- en swemoefening na hardloopoefeninge oorgeskakel en Maandag se groen lig beteken die strydlustige skrumskakel sal weer volle kontak-oefening ook kan hervat.

Dit gee aan hom ʼn week se oefening – op net die regte tydstip.

Frankryk het boaan hul groep geëindig en kom Sondag teen die verdedigende Wêreldkampioene, Suid-Afrika, by die Stade de France te staan.

Maxime Lucu het in Frankryk se laaste groepwedstryd in Dupont se no. 9-trui gespeel, met Baptiste Couilloud wat in die 60 – 7-oorwinning teen Italië van die plaasvervangersbank af opgedraf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

De Villiers ·

Dit vat 6 weke vir so iets om gesond te word…dit is skaars 4 weke en hy wil alweer speel. Hier kom ‘n ding!

JE17 ·

Hierdie wedstryd gaan amper soos ‘n eindstryd wees…

Die drie spanne met die beste kans vir vanjaar se wêreldbeker, lyk vir my na die Springbokke, die Hane en Ierland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.