Eddie Jones: Skare moes hom met ‘baguettes, croissants gegooi het’

Australië se hoofafrigter, Eddie Jones. (Foto: Miguel Medina/AFP)

Eddie Jones, die Australiese afrigter, staan bankvas agter die jong losskakel Carter Gordon, ondanks die span se swak vertoning in Sondag se historiese Wêreldbeker-nederlaag teen Fidji.

Die span het met 22-15 in hul groepwedstryd teen Fidji in Saint Etienne verloor – wat beteken hul hoop om die uitkloprondes te haal hang al hoe meer in die weegskaal.

“Dit is nie goed genoeg nie, maar ons doen ons absolute beste. Ek vra om verskoning, dit is my skuld en ek aanvaar volle verantwoordelikheid,” het Jones ná die wedstryd gesê.

“Ek het waarskynlik erger verdien. Hulle behoort my met baguettes en croissants te gooi. Ek verdien wat ek kry.”

ʼn Gordon-blaps het gelei tot ʼn drie van Josua Tuisova vroeg in die tweede helfte. Die losskakel het ʼn oordeelsfout begaan in ʼn poging om ʼn hoë bal raak te vat en dit het beteken Fidji se senter kon die bal opraap en punte aanteken om die Fidjiane se voorsprong net verder te vergroot.

“Carter is ʼn jong no. 10; hy gaan altyd daardie dae hê,” het Jones aan verslaggewers gesê.

“Ek het dit al voorheen gesê – hy gaan daardie dae beleef – maar hy gaan kop optel en aangaan; hy is ʼn goeie, jong speler.”

Jones het voor die toernooi ʼn opskudding veroorsaak deur Gordon as sy enigste spesialis-losskakel te kies en die ervare Quade Cooper en Bernard Foley uit sy span van 33 vir die toernooi te laat.

Die voormalige All Black Sonny Bill Williams, nou ʼn TV-kommentator, sê Gordon sou kon baat by ʼn meer ervare spanmaat ná ʼn vertoning soos dié op Sondag.

“Ons het gegaan met ʼn jong span; ek is nie spyt oor enigiets nie,” sê Jones.

Jones was betreklik opgeruimd ondanks die nederlaag wat beteken die Wallabies moet Wallis klop of hulle kan vir die eerste keer ooit al in die groepfase van die Wêreldbeker uit die toernooi geboender word.

“Ons het Wallis [hierdie week] en die wonderlike ding van die Wêreldbeker-toernooi is dat dit nie die einde van die pad is nie,” het die afrigter gesê.

“Ek is seker ons ʼn reaksie sien. Ek was werklik beïndruk met die karakter wat ons jong span gewys het.

“Wanneer Fidji op die aanval in ʼn redelik vyandige omgewing is, sou dit maklik vir ons span gewees het om te gaan lê, maar hulle het nie.”

Jones het wel erken dat hy is gefrustreerd met sy span se onvermoë om tot die aanval oor te gaan.

“Ons kon een gedeelte van ons spel net nie regtig aan die gang kry nie. As ons die losgemaal net aan die gang gekry het kon dit die wedstryd verander het, maar ons kon nie.

“Ons kon nie in die skrum oorheers nie en is by die afbreekpunte geklop.”

Jones meen tog die Aussies se dae is nog lank nie getel nie.

“Ek het besluit op ʼn jong span en as dit die verkeerde besluit is, sal ek daarvoor aanspreeklik gehou word,” sê hy.

“Ons het ʼn effense terugslag gehad, maar dit is alles deel van die Wêreldbeker. Ek onthou Suid-Afrika het ʼn wedstryd verloor en [in 2019] die Wêreldbeker gewen.”

Jones het ook geweier om die afwesigheid van beseerde voorspelers Taniela Tupou en kaptein Will Skelton as ʼn verskoning vir die nederlaag te gebruik en sê die span “moet goed genoeg wees om dit te hanteer”.

Albei spelers sal ook die kragmeting met Wallis misloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

melaney ·

Rugby is veronderstel om te wees presies wat dit is: SPORT! Dit moet deur alle toeskouers geniet word. Een dag wen een span, die ander dag wen ‘n ander span. Niemand moet “verantwoordelik” gehou word as hulle span verloor nie. Daar is soveel nare goed in ons samelewing, kom ons geniet die bietjie wat ons het!

JohanR ·

Eddie – ek glo jy is ‘n goeie afrigter maar in Australia op die oomblik het jy net nie die spelers nie. Jy kan maar net werk met wat jy het.

Chris ·

Ek is bevrees Rugby het nou soos ‘n konsert geword met hoofspelers, byspelers, regiseurs, adviseurs en ook ‘n ander klomp narre by. Ek hoor die Span” wat Frankryk toe is bestaan uit, 33 spelers en 23 administratuers/aanhangsels of wat ook al. Die bekgevegte begin reeds weke voor die tyd met aannames, onledings en mooipraatjies. Rassie het die hele wedstryd beamtes/ skeidsregters dinastie op hol oor die onregverdigheid/eenogigheid in so mate dat wanneer die Springbokke opdraf die skeidsregter te bang is om selfs die fluitjie te blaas om die wedstryd te begin. Die All Blacks het al die jare dit op so mooi manier gedoen dat niemand dit juis agtergekom het nie, of daaroor wou praat nie. Hulle is nou ‘n gemiddelde spannetjie.

SwartBees ·

Waar op dees aarde val jy uit? Sit neer wat jy rook en loop stadig weg want 1) dis te sterk/onwettig. 2) Jy is nog nie oud genoeg vir dit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.