Een punt is ook genoeg vir die Lions

Die Lions het Scarlets met een punt weg van die huis geklop. (Foto: X/Lions)

ʼn Strafskop, ʼn drie en ʼn doelskop in die doodsnikke van die wedstryd het sake vir die Lions teen die Scarlets beklink.

Die Johannesburgers het die kragmeting met 24 – 23 in Llaneli gewen – hul eerste oorwinning van die jongste Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen.

Met die uurglas wat leegloop, en die Scarlets wat ʼn goeie voorsprong geniet, het Sanele Nohamba die bal amper doelloos weggeskop.

Die tuisspan se Steff Evans het die bal maklik opgeraap, maar sy daaropvolgende skop is deur Richard Kriel afgestorm, terwyl ʼn vlieënde Hencu van Wyk die beweging onder die pale afgerond het.

Nohamba was in die kol met sy doelskop en die Lions het met een punt gewen.

Puntemakers:

Lions: Drieë: Marius Louw, PJ Botha en Hencu van Wyk. Doelskoppe: Sanele Nohamba (3). Strafskop: Nohamba.

Scarlets: Drieë: Tom Rogers en Ryan Elias. Doelskoppe: Ioan Lloyd (2). Strafskoppe: Lloyd (3).

  • In ʼn aksiebelaaide wedstryd in Treviso het die Stormers met 20 – 17 teen Benetton verloor.

Die Kapenaars sal hand in eie boesem moet steek: Foute en verbroude stelskoppe was van die grootste bydraende faktore tot hul uiteindelike nederlaag.

Die Stormers het vir twee jaar op ʼn streep in die eindstryd van die toernooi gespeel, maar hulle het nou twee agteereenvolgende wedstryde weg van die huis verloor.

Hulle is tans agtste op die amptelike punteleer.

Puntemakers:

Benetton: Drieë: Marco Zanon en Alessandro Izekor. Doelskoppe: Tomas Alboronoz en Jacob Umaga. Doelskop: Alboronoz. Skepskop: Rhyno Smith.

Stormers: Drieë: Warrick Gelant, Scarra Ntubeni en Courtnall Skosan. Doelskop: Jean-Luc du Plessis.

  • VRK-punteleer:
  1. Bulls: 15 punte ná vier wedstryde
  2. Glasgow Warriors: 15 punte ná vier wedstryde
  3. Ulster: 14 punte ná vier wedstryde
  4. Connacht: 14 punte ná vier wedstryde
  5. Benneton: 14 punte ná vier wedstryde
  6. Munster: 13 punte ná vier wedstryde
  7. Edinburgh: 12 punte ná vier wedstryde
  8. Stormers: 11 punte ná vier wedstryde
  9. Leinster: 10 punte ná drie wedstryde
  10. Ospreys: 10 punte ná vier wedstryde
  11. Zebre: 9 punte ná vier wedstryde
  12. Lions: 8 punte ná vier wedstryde
  13. Cardiff: 7 punte ná vier wedstryde
  14. Scarlets: 6 punte ná vier wedstryde
  15. Dragons: 2 punte ná drie wedstryde
  16. Sharks: 1 punt ná vier wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.