En dis punte Pretoria!

Canan Moodie op pad doellyn toe. (Foto: GB Jordaan)

ʼn Begeesterde Bulls-span het ʼn groot slag op Loftus Versfeld geslaan toe hulle vir Saracens met 27 – 16 in ʼn Kampioenebeker-wedstryd geklop het.

Die Pretorianers het drie vinnige drieë – danksy David Kriel, Janko Swanepoel en Canan Moodie – gedruk en hulle het in ʼn stadium met 20 – 6 voorgeloop voordat die Engelse klubspan in die laaste 20 minute van die wedstryd ʼn paar troosdrieë gedruk het.

Dit was veral Saracens se dissipline wat hulle in die steek gelaat het en Alex Goode (heelagter) is saam met Maro Itoje (slot) in die eerste helfte met geel kaarte van die veld gestuur.

Daar is boonop in die 52ste minuut ʼn rooi kaart in Billy Vunipola se rigting geswaai nadat die agtsteman vir Cameron Hanekom té hardhandig uit die pad wou kry.

Willie le Roux wil die bal na David Kriel laat loop. (Foto: GB Jordaan)

Maar in ʼn neutedop moet Jake White ʼn baie tevrede man wees.

Die Bulls se direkteur van rugby het in aanloop tot die kragmeting gesê dat sy span se voor- én agterspelers die pap dik moet aanmaak.

En dit is presies wat hulle gedoen het.

Die voorspelers het Saracens aanvanklik moeg gespeel waarna binnesenter David Kriel vir die eerste drie van die wedstryd deurgedraf het.

Dan was die voorry van Gerhard Steenekamp, Akker van der Merwe en Wilco Louw met tye net te sterk vir Jamie George en kie, terwyl Kurt-Lee Arendse en Moodie weer lus vir hardlooprugby was.

Volgens Saracens se Mark McCall het sy span aanvanklik onder die Bulls se volgehoue druk gesteier.

“Hul fisieke aanslag het ons veral in die eerste helfte ontkant betrap en ons het veral by die afbreekpunte en op verdediging gesukkel. Loftus is ʼn ikoniese rugbyveld en ons is dankbaar om hier uit te draf, maar ons kon baie beter gedoen het,” het die Engelsmanne se direkteur van rugby gesê.

Die Loftus-skare het ook hul stemme dik gemaak elke keer wanneer Owen Farrell agter die skopkelkie aangetree het.

Dit was die 32-jarige losskakel se eerste wedstryd sedert hy aangekondig het dat hy ʼn breek van internasionale rugby gaan neem.

“Ek het niks om daaroor te sê nie,” was McCall se antwoord toe hy oor die toeskouers se optrede jeens sy kaptein uitgevra is.

Owen Farrell in aksie op Loftus Versfeld. (Foto: GB Jordaan)

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: David Kriel, Janko Swanepoel en Canan Moodie. Doelskoppe: Johan Goosen (3). Strafskoppe: Goosen (3).

Saracens: Drieë: Elliot Daly en Theo McFarland. Strafskoppe: Owen Farrell (2).

  • Spanne:

Bulls: Willie le Roux, Kurt-Lee Arendse, Stedman Gans, David Kriel, Canan Moodie, Johan Goosen, Embrose Papier, Cameron Hanekom, Elrigh Louw (kaptein), Marco van Staden, Reinhardt Ludwig, Janko Swanepoel, Wilco Louw, Akker van der Merwe en Gerhard Steenekamp. Plaasvervangers: Jan-Hendrik Wessels, Simphiwe Matanzima, Mornay Smith, Deon Slabbert, Marcell Coetzee, Zak Burger, Jaco van der Walt en Sergeal Petersen.

Saracens: Alex Goode, Alex Lewington, Elliot Daly, Nick Tompkins, Sean Maitland, Owen Farrell (kaptein), Ivan van Zyl, Billy Vunipola, Andy Christie, Juan Martin Gonzalez, Hugh Tizard, Maro Itoje, Alec Clarey, Jamie George Mako Vunipola. Plaasvervangers: Theo Dan, Tom West, Christian Judge, Theo McFarland, Toby Knight, Aled Davies, Olly Hartley en Lucio Cinti.

David Kriel druk sy drie. (Foto: GB Jordaan)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.