
André Esterhuizen verdien nog ’n Springbok-kans. Foto: Marco Longari/AFP.
Suid-Afrika se André Esterhuizen se vuurwarm vertonings in die kleure van Harlequins in die Engelse Premierskap is deur sy medespelers raakgesien.
Die voormalige Sharks-senter is gister deur die Rugby Players’ Association (RPA) vereer toe hy as die spelers se speler van die jaar aangewys is.
“Dit is ’n ongelooflike eer om hierdie toekenning te ontvang. Wat dit selfs meer spesiaal maak, is die feit dat my spanmaats én teenstanders vir my gestem het,” het Esterhuizen gesê.
Die 28-jarige oudleerder van Hoërskool Klerksdorp se statistieke sorg vir indrukwekkende leesstof: In 23 wedstryde vir sy klub het hy 48 punte (danksy agt drieë, twee strafskoppe en ’n doelskop) aangeteken.
Hy het onder meer die wendrie in Harlequins se spogsege teen die kampioenskap-voorloper, Leicester Tigers, gedruk, terwyl hy ook in Januarie as die Premierskap se speler van die maand aangewys is.
Volgens Ugo Monye, die voormalige Engeland-vleuel, kan Esterhuizen amper enigiets op die rugbyveld doen.
“André beskik oor al die belangrikste eienskappe wat ’n mens van ’n topsenter verwag – hy kan die bal uitstekend dra, sy verdediging is briljant terwyl hy ook nie vir ’n tweestryd by die afbreekpunte terugstaan nie,” het Monye gesê.
Esterhuizen het al in ’n paar toetse vir die Springbokke gespeel (sy laaste wedstryd in die Groen-en-goud was teen Argentinië in 2019), maar sy spelpeil regverdig ongetwyfeld meer kanse om sy stempel op die internasionale verhoog af te druk.
???? Congratulations to Andre Esterhuizen and @dannycare who were both honoured at @theRPA Awards last night. #COYQ
— Harlequins ???? (@Harlequins) May 26, 2022
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
9 Kommentare
Goeie werk Andre.
Tragies dat hierdie skitterende senter nie in die Springbokspanne van die afgelope klompie jare is nie.
Briljante spelers soos Andre Esterhuizen en Jan Serfontein hoort op meriete vir die springbok span te speel
Baie beter senters in S. A. ons moet nie die Engelse se siening ernstig opneem… Bokke het ‘n nuwe spelpatroon. Esterhuizen is te stadig daarvoor, kan nie almal uit die aarde wil probeer hardloop nie; op internasionale vlak sal hy gereeld’ ge-Owen Farrell ‘ word.
Baie geluk André, iets om op trots te wees!