Faf dalk eers in 2022 terug

Faf de Klerk in aksie vir die Sale Sharks. (Foto: XAVIER LEOTY/AFP)

Alex Sanderson, Sale Sharks se direkteur van rugby, meen dat Faf de Klerk moontlik vir vier maande op die kantlyn sal wees.

Die Springbok-skrumskakel het aanvanklik sy heup in die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus in Kaapstad beseer en hy het dit tydens die Rugbykampioenskap-wedstryde in Australië vererger.

“Ons hou duim vas dat hy vir minder as vyf maande op die krukkelys sal wees, maar ons sal moet wag en kyk wat gebeur. Ek is nie baie gelukkig oor die stand van sake nie, maar wat kan ’n mens doen?” het Sanderson gesê.

“As daar egter iemand is wat vinnig weer sy verskyning op die veld ná ’n besering kan maak, dan is dit Faf.”

In De Klerk se afwesigheid het Jacques Nienaber (Springbok-afrigter) vir Cobus Reinach en Herschel Jantjies tot sy beskikking vir die komende wedstryde teen Wallis, Skotland en Engeland. Die Suid-Afrikaners het ook die Sharks se Grant Williams nadergetrek.

Die 31-jarige Reinach is egter baie ondersteuners se gunstelingkeuse om die blonde skrumskakel se skoene vol te staan.

Die onlangse SA A-wedstryd teen die Blou Bulle gedurende die Britse en Ierse Leeus-toer is eintlik ’n perfekte voorbeeld van wat Reinach in ’n Springbok-trui kan vermag: Sy diens aan die agterlyn was suiwer, hy het sy skopvoet oordeelkundig ingespan en hy het ’n sleutelrol in Aphelele Fassi se drie gespeel.

Daarbenewens kan sy kennis van Europese rugbyvelde – te danke aan die ervaring wat hy saam met Northampton Saints en Montpellier opgedoen het – van groot waarde wees.

Die Springbokke speel op 6 November hul eerste Europese wedstryd teen Wallis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Willi ·

Wonderlike nuus MM. Dink die ander sal maar net voortgaan waar hy opgehou het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.