Faf vuur en vlam vir Frankryk-toets

Antoine Dupont en Faf de Klerk in aksie in die Hane en Springbokke se vorige kragmeting in Marseille. (Foto: Jean Catuffe/DPPI via AFP)

Faf de Klerk meen dat Antoine Dupont een van die beste spelers op die internasionale verhoog is.

Die 26-jarige kaptein en skrumskakel van die Hane se vaartversnelling op ʼn rugbyveld is uit die boonste rakke, terwyl sy aanvoeling vir die spel ook gereeld sy teenstanders onder kwaai druk plaas. Terselfdertyd verdedig hy soos ʼn wafferse losvoorspeler.

Maar Wêreldrugby se voormalige speler van die jaar het die Franse se laaste paar Wêreldbekerwedstryde met ʼn gekraakte wangbeen misgeloop nadat hy vroeër tydens die groepfaserondes koppe met Namibië se Johan Deysel in Marseille gestamp het.

Nou is hy weer terug op die oefenveld en kan die Springbokke in ʼn watertand kwarteindstrydontmoeting op die Stade de France aanvat.

Tog beskik die Franse oor ʼn rits gevaarmanne in hul span en dit sal dom wees om net op die een speler te konsenteer; ʼn stelling waarmee De Klerk heelhartig saamstem.

“Antoine is ʼn wonderlike speler en hy gee vir Frankryk baie selfvertroue op die rugbyveld. Ons berei egter voor om teen ʼn span te speel en nie individuele spelers nie. Persoonlik is dit altyd goed om teen die wêreld se beste spelers kragte te meet,” het die Springbok-nommernege gesê.

Faf de Klerk. (Foto: Twitter/Springbokke)

Volgens De Klerk kan die Suid-Afrikaners tradisionele Springbok-rugby in die uitspeelrondes opdis, maar hulle sal ook aanpasbaar wees

Die span het tans die vierde meeste punte (151) in die toernooi aangeteken, terwyl hul 22 drieë hulle bó avontuurlustige spanne soos Skotland en Fidji op die amptelike driedruklys plaas.

Maar die Fransmanne sal allesbehalwe kanonvoer in hul hoofstad wees.

“Frankryk is formidabele teenstanders. Daarbenewens is hulle die naasbeste span ter wêreld en hulle kan op die steun van hul entoesiastiese ondersteuners reken. Hulle is beslis die gunstelinge in aanloop tot die wedstryd,” het Deon Davids, Springbok-hulpafrigter, gesê.

Tog is die Springbokke oorgehaal om die kragmeting te wen; die span dis juis van sy beste wenrugby in Wêreldbekertoernooie op.

“Om teen Frankryk in die pragtige Parys in ʼn Wêreldbeker-kwarteindstryd te speel is ʼn baie groot geleentheid en ek glo nie die spelers het veel motivering vir die wedstryd nodig nie.”

Die aksie begin Sondag om 21:00 en die wedstryd word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

De Villiers ·

Sal maar tee moet drink vir die Rugby Sondag aand. Dit is heeltemal te laat vir bier of koffie!

Pieter Johan ·

——- en die truie ? ? ? In die Pragtige Parys met die Pragtige Stadium en die Pragtige Effektiewe opposisie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.