Farrell vir ’n paar wedstryde geskors

Owen Farrel. Foto: Twitter.

Engeland se rugbykaptein, Owen Farrell, is vir vyf wedstryde geskors nadat hy Charlie Atkinson op ’n uiters gevaarlike wyse in ’n wedstryd tussen Saracens en Wasps platgetrek het.

Die skorsing beteken dat hy Saracens se Gallagher Premiership-kwarteindstryd teen Leinster sal misloop, sowel as ’n moontlike halfeindstryd.

’n Onafhanklike tugkomitee, bestaande uit Mike Hamlin (voorsitter), Gareth Graham en Leon Lloyd, wou die Engelse losskakel aanvanklik vir tien wedstryde geskors het, maar dit is later tot vyf verminder.

Volgens die komitee was die kontak met Atkinson se nek heeltemal onaanvaarbaar, met die gevolg dat die Wasps-speler sy bewussyn verloor en harsingskudding opgedoen het.

Farrell word deur baie rugbykenners as ’n gewoonte-oortreder uitgekryt en is gereeld in die sop weens sy gevaarlike duikslae. In 2018 het hy byvoorbeeld Suid-Afrika se André Esterhuizen op Twickenham met sy skouer disnis geloop.

Jim Hamilton – ’n voormalige Saracens-slot – het op Twitter gesê dat die Atkinson-voorval een van die swakste têkkels was wat hy ooit gesien het.

Maar Mark McCall (Saracens se direkteur van rugby), Eddie Jones (Engeland-afrigter) en die stigters van ’n liefdadigheidsorganisasie met wie Farrell nou bande het, het egter in die Engelse kaptein se guns getuig.

Hul getuigskrifte van Farrell se goeie gedrag het ’n reuse-rol gespeel in sy skorsing wat met vyf wedstryde verminder is.

“Dit is deur die Engelse rugby-unie, die speler en die tugkomitee aanvaar dat die oortreding eerder roekeloos as opsetlik was,” het Hamlin gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jurie ·

Hierdie knaap is ‘n boef en kom weg met moord.Net ‘n kwessie van tyd voor hy iemand permanent gaan beseer.

Anoniem ·

Of iemand wat in sy laaste wedstryd speel, 5 minute voor die einde van die wedstryd reken dis tyd dat Farrel ‘n les geleer word.

MakersMark ·

Mees arrogante speler in internasionale rugby. Ook nie die skerpste mes in die laai nie.

Baardman ·

Geen respek vir hom. Kyk maar sy optrede na die wereldbeker. Het nie eers sy medalje om sy nek gesit nie. As jy n definisie van n “loser” soek, dis hy

Adam Adriaan ·

Ja hy dink hy is ‘n muis met maanhare. Glo hulle gaan sy maaanhare bietjie knip en hom bietjie terug bring aarde toe.

tweeling ·

Wat het die getuienis van ander te doen met wat op die video te sien is. Hy behoort nie gou weer te speel nie en moet vir rehabilitasie gaan

Niklaas ·

So , die liefdadigheids mense pleit ook vir ligte straf vir hom. Dis absurd en lagwekkend. Hoop sy geldelike verlies weens die 5 wedstryde wat hy nie speel , gaan hom seermaak en laat verbeter in die toekoms. Die tyd sal leer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.