Video: ‘Gewoontemisdadiger’ Farrell se lot vanaand beslis

Owen Farrell. Foto: Twitter.

Wie het die lang arm van die gereg nodig as jy Owen Farrell in jou span het? Die Engelse kaptein en Saracens-agterspeler het die afgelope naweek in ’n wedstryd teen Wasps weereens die koerantopskrifte om die verkeerde redes gehaal.

Die 28-jarige is met ’n rooi kaart van die veld gejaag nadat hy Charlie Atkinson disnis met sy arm geloop het.

Sy duikslag het meer gepas in die rofstoeiwêreld as op ’n rugbyveld gelyk en die WWE-ster John Bradshaw Layfield het juis kort ná die voorval op Twitter gesê dat Farrell met ope arms in die WWE verwelkom sou word.

Farrell sal egter vanaand voor ’n tugkomitee van Mike Hamlin (voorsitter), Gareth Graham en Leon Lloyd verskyn. En die vooruitsigte lyk nie te goed vir die beleërde speler nie.

Andy Goode, wat vir RugbyPass skryf, meen dat Farrell ’n skorsing van tot tien weke verdien. Volgens die joernalis was die duikslag roekeloos, opsetlik en net pleinweg gemeen; die feit dat hy Engeland se kaptein is, moet geensins in sy guns tel nie.

“Hy probeer altyd om iemand hard te têkkel en hy doen dit gereeld hoog. Dit moet glad nie eens saak maak dat sy naam Owen Farrell is nie – hy verdien die straf wat hom toekom,” het Goode geskryf.

In 2018 het Farrell Suid-Afrika se André Esterhuizen blatant met die skouer geloop sonder om sy arms te gebruik. Die oortreding is egter ongestraf deur skeidsregter Angus Gardiner laat verbygaan.

Maar volgens Saracens se direkteur van rugby, Mark McCall, het Farrell se duikslae al baie verbeter.

“Hy werk baie hard aan alle aspekte van sy spel en hy het werklik daardie knelpunt verbeter. Hierdie voorval is effens anders omdat hy ’n skop opgevolg het en baie graag ’n verskil vir sy span wou maak,” het McCall gesê.

Sir Clive Woodward, wat die Webb Ellis-trofee saam met Engeland in 2003 omhoog gehou het, voel dat Farrell se jongste oortreding dalk uit frustrasie met Engeland se sukkelvertoning in die eindstryd van verlede jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi was.

“Dit het vir my soos ’n têkkel gelyk wat pleinweg deur frustrasie gemotiveer was. Dit was ’n moeilike en uitdagende seisoen vir Farrell,” het Woodward gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

tweeling ·

Siestog, lei hulle nog steeds aan RWVS (rugby wêreld beker verloor sindroom) shame. As die knaap nie ‘n laagvat kan uitvoer nie hoort hy nie op die veld.

Niklaas ·

Toe die Engelse span verloor in die wereldbeker eindstryd , kry elk ‘n silwer medalje en wat doen die sleg verloorders toe ? Hul pluk dit af in verontwaardiging want soveel druk was op hulle om te presteer. So iets sien mens maar bitter min op die sportveld. Hul geniet so ‘n hoë aansien dat selfs skeidregters effens geïntimideer is , soos gesien was toe arrogante Farrel vir Andre Esterhuizen se kop amper verwyder en nie eers ‘n strafskop kry nie . Nou hoop ons maar dat geregtigheid sal seëvier hierdie keer.

Johann ·

Hy het meer as genoeg tyd gehad om laag in te gaan vir die tackle, hy hou seker daarvan om kanse te vat…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.