Flou Lions deur Waratahs omgewaai

Die Lions het met 29 – 17 teen die Waratahs verloor. Foto: Twitter.

’n Paar seisoene terug sou die Lions waarskynlik die einste Waratahs-span van vandag aan’t flarde gehardloop het.

Tog is sport maar ’n vreemde ding en so verspotmaklik soos wat jy drieë in die een seisoen gedruk het, só sukkel jy ’n jaar of wat later.

Die Johannesburgers is weliswaar in wat rugbymanne ’n “herbouingsfase” noem nadat ’n klomp van hul spelers nie meer beskikbaar is nie. Maar selfs wanneer bouers aan hul huis bou, kan hulle steeds trots wees op hul daaglikse werk, en nie nét die eindproduk nie.

Die Waratahs het vandag 29 – 17 met die Lions in Sydney afgereken en hoewel die Johannesburgers met tye binne trefafstand van die tuisspan was, het dit nooit juis gelyk asof hulle die wedstryd sou wen nie.

Ruben Schoeman het vroeg in die wedstryd ’n geelkaart gekry ná ’n voorarm-in-die-gesig-gegroetery met die Waratahs se Rob Simmons langs ’n losskrum.

Die tuisspan het behoorlik munt uit Schoeman se afwesigheid geslaan en hulle het ’n rits drieë gedruk om ’n rustydvoorsprong van 19 – 3 te geniet.

In die tweede helfte het dit effens beter met die Lions gegaan. Manne soos Tyrone Green en Elton Jantjies het hul bes probeer, terwyl die woelige Marnus Schoeman se inklimspel uiteindelik met twee drieë beloon is.

Maar die Waratahs was vanaand net beter op die aanval – hulle het 24 keer die Lions-verdedigers geklop, terwyl die Johannesburgers net 13 keer gesorg het dat die tuisspan misgetas het.

Jantjies se span speel volgende week teen die Rebels, waarna die Blues en die Highlanders op hulle wag. Indien hulle nie hul sokkies optrek nie, kan dit ’n baie lang toer vir hulle word.

Puntemakers:

Waratahs: Drieë: Angus Bel, Lachie Swinton, Jack Dempsey, James Ramm en Tetera Faulkner. Doelskoppe: Will Harrison.

Lions: Drieë: Marnus Schoeman (2). Doelskoppe: Andries Coetzee en Elton Jantjies. Strafskop: Jantjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.