Foto’s: En dit is punte, Pretoria!

Bulls vs Higlanders. (Foto: GB Jordaan)

Vóór gister se wedstryd teen die Highlanders op Loftus Versfeld was daar ’n paar lekker flou grappies oor die Bulls se sukkel-seisoen.

Soos, wat is die verskil tussen die Bulls en ’n samoesa? Ten minste het ’n samoesa drie punte.

Toegegee, jy gaan nou nie die komediant van die jaar- toekenning by die plaaslike kroeg vir dié kwinkslag ontvang nie, maar in ’n jaar waar die eens gevreesde Pretoria-span vier agtereenvolgende wedstryde verloor het om net één ligapunte agter hul naam te hê, is dit soos die Engelsman sê: “It is funny because it is true.”

Maar daar word vandag weer in die Pretoriase strate geglimlag. Gisteraand op Loftus Versfeld het ’n vlieënde Rosko Specman sommer drie keer op sy eie gaan punte aanteken om toe te sien dat die Bulls (uiteindelik!) die Higlanders met 38 -13 ore aangesit het.

In die eerste tien minute van die spel het dit egter soos ’n herhaling van die vorige wedstryde gelyk. Ten spyte van ’n paar blink Bulls-oomblikke, soos Embrose Papier se lopie, het die besoekers maar weer eens die oorhand begin kry om eerste punte aan te teken toe Josh Ioane heel rustig oor die doellyn gedraf het.

Bulls vs Higlanders. (Foto: GB Jordaan)

Dié duidelike herinnering aan die geploeter van ouds het gesorg dat die ondersteuners op die R50-sitplekke van die Oos-pawiljoen eerder begin weddenskappe aangaan oor die presiese tyd wanneer die skaduwee lank genoeg oor die veld sal strek sodat die son nie meer in hul oë skyn nie.

Maar selfs met die beste donkerbril en verkyker sou die ondersteuners in die goedkoop, boonste gestoeltes gesukkel het om te sien wie is wie op die veld: Albei spanne het in blou gespeel en ’n paar tannies het inderdaad vrolik hande geklap toe Ioane sy drie gedruk het.

Die Bulls het egter hul blou truie vir iets meer vroliks in geel verruil en skielik was hul mojo sommer ook weer terug.

Specman het die eerste van sy drie drieë gedruk en Manie Libbok het beslis sy kleim afgesteek om meer gereeld in die beginvyftiental te wees.

Hoewel die Highlanders die swakste onder die Nieu-Seelandse spanne is, het die Bulls hierdie oorwinning broodnodig gehad om hul seisoen op koers te kry.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Rosko Specman (3), Warrick Gelant, Jaco Visagie en Cornal Hendricks. Doelskoppe: Manie Libbok (2) en Morné Steyn (2).

Highlanders: Drie: Josh Ioane. Doelskop: Ioane. Strafskoppe: Ioane (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Riaan ·

En nou wen die bulletjies weer die beker soos hulle aan gaan.

DERICK ·

Nee dit los ons vir die Weer Probeer allias Stormer ondersteuners

Frans ·

Dit bly maar steeds ‘n geykte waarheid,wedstryde word voorlangs gewen en waar die Highlanders in die eerste helfte talle kanse weggesmyt het,met hul All Black skrumskakel die grootste sondebok,was die skrumkrag van die Bulle te veel en het die Highlanders met lam bene boonop gesukkel met die lugdruk en kon die Bulle baljaar.

‘n Mens kan nie veel wys word uit die wedstryd nie en is die eerste toerwedstryd teen die Reds met ‘n baie sterk pak voorspelers en hope vaardige agterspelers belangrik vir die Bulle.Kom hul die hekkie oor kan dit ‘n goeie toer word,as hul struikel kan dit net soos hul buurman ‘n nagmerrie toer word.

Dus alles van die beste Bulle,

Lean ·

Hi Riaan. Gun elke ou sy wen. Elke span gaan deur ‘n dip. Niemand sê die Bulle gaan enige beker wen nie. Die spelers het hulle eerste 3 games net net verloor. So die potensiaal was daar. Dit was goed dat dit nou gewys het. Shark tans ons beste uitvoer produk

Scalla ·

Geluk Bulle, mooi driee gewees, is daar nie n reeling dat die besoekende span ander truie moet gebruik as daar konflik agv kleredrag kan wees nie? Is dit nie die bestuur se taak nie?

Anoniem ·

Ja Scalla die kleure van die twee spanne het Saterdag baie verwarring veroorsaak. Hoekom moes die Bulle ‘n ander kleur trui gaan aantrek? Vra maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.