Foto’s: ‘Nuwe’ Bokke slyp in Rosestad

Die Springbokke tydens gister se oefensessie in Bloemfontein. Foto: GB Jordaan.

Die Springbokke speel vanmiddag om 17:05 in die tweede toets teen Wallis in Bloemfontein.

Jacques Nienaber se aankondiging vroeër dat 14 veranderinge tot die Suid-Afrikaanse beginspan aangebring is, het ongetwyfeld die hoofopskrifte gehaal.

Sir Gareth Edwards, die legendariese Walliese skrumskakel, het na die Springbokke gekap en onder meer aangevoer dat Nienaber en Kie oneerbiedig teenoor Wallis opgetree het.

“Ek dink nie dit toon enige respek jeens Wallis nie. Daar is eintlik net een manier vir Wallis om op hierdie spankeuse te reageer en dit is om vir die Springbokke ’n goeie loesing te gee. Dit is ’n goeie geleentheid om hulle ore aan te sit en sodoende te bedank vir die span wat hulle gekies het,” het die 74-jarige oudspeler gesê.

Wayne Pivac (afrigter) en Dan Biggar (kaptein) het egter intussen gesê dat die “nuwe Bokke” selfs ’n groter bedreiging kan inhou.

“As jy na die spelers kyk wat hulle vir hierdie naweek gekies het, wil jy amper sê dat hulle tans die spelers met die beste spelpeil is. Terselfdertyd dink ek dat hulle dalk ’n bietjie skerper kan wees omdat hulle meer rugby agter die blad het,” het Biggar gesê.

Op sy beurt het Handré Pollard aangevoer dat die Suid-Afrikaners nie vir die Rooi Drake sal terugstaan nie.

“Ons weet dat Wallis hul bes sal doen om ons te ontsenu, maar dit sorg gewoonlik dat ons selfs beter wil speel. Terselfdertyd is dit ook belangrik om vir die jonger spelers in ons groep speelkans in groot wedstryde te gee want hulle kan net daarby baat,” het die Springbok-kaptein vir dié toets gesê.

  • Maroela Media se GB Jordaan is in Bloemfontein en hy het gister se oefensessie vasgevang.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.