‘Frans praat’ dalk Foster se voorland

Ian Foster. (Foto: Phill Magakoe/AFP.)

Volgens die Franse media kan Ian Foster of Joe Schmidt binnekort hul pad na een van die land se toprugbyklubs vind.

Le’Equipe en Midi Libre berig dat die twee afrigters op Montpellier se kortlys is nadat Richard Cockerill onlangs die trekpas as hoofafrigter gekry het.

Die 52-jarige Engelsman is vandeesweek ná net sewe wedstryde as Montpellier se hoofafrigter gepos nadat Bernard Laporte as die klub se direkteur van rugby aangestel is.

Cockerill kon net een van sy kragmetings aan die stuur van die span wen en Montpellier geniet deesdae die houtlepelstatus in die Top 14-toernooi.

Patrice Collazo is weliswaar op kort termyn nadergetrek om die kastaiings uit die vuur te krap, maar Laporte sal weldra ʼn meer permanente aanstelling wil maak.

Foster was aan die stuur van die All Blacks-span wat met 12–11 teen die Springbokke in die Wêreldbeker-eindstryd verloor het, terwyl Schmidt een van sy adjudante was.

Nieu-Seeland se rugbybase het egter reeds vóór die Wêreldbeker-toernooi bevestig dat die internasionale rugbyskouspel Foster se laaste rodeo saam met die nasionale span sal wees.

Scott Robertson vat deesdae die Kiwi’s se hoofafrigtersleisels vas en hy het sy eie afrigterspan aangestel.

Nodeloos om te sê is daar nie plek vir Schmidt, ʼn bekwame afrigter wat vroeër Ierland se nasionale span met welslae afgerig het, nie.

Volgens berigte geniet die 58-jarige Schmidt die binnebaan om Montpellier se afrigtersleisels in ʼn permanente greep vas te vat.

Hy het Clermont tussen 2007 en 2010 afgerig, waarna sy rugbypad hom na Leinster en Ierland geneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.