Siyaya Brakpan (Valke) het Saterdag teen Witrivier (Pumas) getoon dat hy die vermoë én die diepte het om vanjaar bo uit te kom in die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker.
Die Panne het die wedstryd op Witrivier 38-12 gewen.
Harry Nieuwenhuis, Brakpan se voorsitter, het aan Pale Toe! gesê die klub het so te sê sy dieptespan gespeel om almal in die groep `n speelkans te gee.
“Dit het die momentum so effens versteur, maar die poging was steeds goed genoeg om [gerieflik] te wen.”
Hy sê Brakpan het aanvanklik gesukkel om op `n nat winderige Witrivier aan die gang te kom, “maar ons aanvaar enige tyd `n wegoorwinning wat vyf ligapunte insamel”.
Nieuwenhuis sê uitblinkers was daar vandeesweek nou nie te veel nie, maar Ian Oosthuizen en Dean van der Merwe asook Armand Jordaan, wat in sy eerste wedstryd vanjaar gespeel het, het goed vertoon.
Oosthuizen (twee), Juan Botha, Franco Booysen en Jaco Lotter het onder andere die Panne se drieë gedruk. Die losskakel, Gido Horn, het vier verdoel.