GB: Welkom Rovers verras in openingswedstryd

goue bekerWelkom Rovers het `n verrassende bonuspuntsege in die openingswedstryd van die reeks om die Goue Beker behaal deur Villagers van Worcester voor dié se makroskare op Bolandpark, Worcester, te klop.

Met die oorwinning van 39-29 slaag die Noord-Vrystaters in hul doelstelling om minstens een wegwedstryd te wen.

Daar is `n klompie skitterdrieë gedruk, en albei spanne het die vereiste vier vir `n bonuspunt agter hul name geplaas.

Groter beweeglikheid, beter dissipline en `n skakelpaar wat sy stempel deeglik op die wedstryd afgedruk het, het Rovers in staat gestel om rustyd reeds 26-3 voor te loop en uiteindelik te wen.

Jaco Pretorius (skrumskakel) het `n driekuns drieë behaal, en Tiaan van Wyk (losskakel) het 19 punte met vyf strafdoele en twee doelskoppe bygedra.

Die tweetal het ook grootliks die gang van die spel met puik besluitneming en goeie taktiese skopwerk bepaal.

Rovers het nie juis raad met Villagers se monsterskrum gehad nie, maar Villagers het nie veel kans gehad om dit te benut nie.

Sy gevaarlike agterlyn het te veel hanteerfoute in die eerste helfte begaan, maar in die tweede helfte die besoekers laat bontstaan.

`n Geel kaart aan sy stut Gert Luwes kort ná rustyd het Rovers lank genoeg van stryk gebring om Villagers die agterstand van 3-26 tot 17-29 te laat krimp.

Die tuisspan het in die tweede helfte ook met groter doelgerigtheid gespeel.

Die punte –

Villagers Worcester 29 (3) – Drieë: Courtney Isaacs, Nazeem van Sitters, Lincolin Eksteen, Jasherie Kariem. Doelskoppe: Clayton Isaacs (2), Yazeed Johnson. Strafdoel: Clayton Isaacs.

Welkom Rovers 39 (26) – Gerhard Klopper, Jaco Pretorius (3). Doelskoppe: Tiaan van Wyk (2). Strafdoele: Van Wyk (5).

Ander uitslae –

Old Georgians 20, Witrivier 18; Pirates 28, Wanderers Windhoek 26; Port Elizabeth Polisie 35, Bloemfontein Polisie 14; Durbanville-Bellville 40, Old Selbornians 14; Rustenburg Impala 46, Northam 19; Pretoria Polisie 44, Sishen 17; Valsbaai 37, Durban Collegians 19.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.