Gewonde Blitsbokke trek versterkings nader

Die Blitsbokke is tans sewende op die HSBC-punteleer. Foto: Twitter.

Ná ʼn nagmerrietoer van Noord-Amerika – waar die Blitsbokke lelik in Los Angeles en Vancouver kleigetrap het – het die nasionale sewesspan ʼn paar versterkings nadergetrek.

Benewens die sukkelende vertonings gaan die span ook gebuk onder ʼn rits beserings: Selvyn Davids, Ronald Brown, Justin Geduld en Dewald Human is onder meer op die krukkelys.

Die Blitsbok-bestuur het intussen vir Donovan Don, Sebastiaan Jobb, Morné Joubert en Mpho Kubheka gevra om by die groep in Stellenbosch aan te sluit waar daar vir die volgende toernooi in Hongkong voorberei word.

Don het vir die junior Springbokke op heelagter uitgedraf, terwyl Jobb en Joubert al deel van die SA o.18-sewesopset was. Kubheka draf tans op skrumskakel uit vir die Universiteit van Johannesburg in die Varsitybekerreeks.

Sandile Ngcobo, Blitsbok-afrigter, het sy dank jeens SA Rugby en die betrokke spelers se provinsiale spanne uitgespreek.

“Ek wil die spanne bedank wat die spelers vir ons beskikbaar gestel het. Met die plaaslike reekse in volle gang weet ek dat dit ʼn moeilike taak is om spelerhulpbronne doeltreffend te bestuur,” het hy gesê.

Die Blitsbokke beklee tans die sewende plek op die HSBC-punteleer en die Hongkong-toernooi begin op 31 Maart.

Die Blitsbok-hoofafrigter het al vantevore beloof dat die spanlede hul uiterste bes sal doen om weer op die wenpad te kom.

“Om te wen is ʼn gewoonte en ek dink dat verloor ook ʼn gewoonte kan word as ʼn mens nie indringend uit daardie gat probeer klim nie. Daar was hier en daar ʼn paar goeie oomblikke op die veld [in Los Angeles en Vancouver] gewees, maar ons kon glad nie daaruit munt slaan nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

Darem maar snaaks wat se verskil ‘n afrigter kan maak. Dit nou al hoeveel keer gesien!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.