Gʼn sprokieseinde vir Ierland se ‘beste ooit’

Johnny Sexton (links) nadat Ierland met 28- 24 teen Nieu-Seeland op die Stade de France verloor het. (Foto: Jean-Marie Hervio/KMSP via AFP)

Johnny Sexton het vir die volle 80 minute in Ierland se Wêreldbeker-ontmoeting teen Nieu-Seeland op die Stade de France gespeel.

Maar toe die eindfluitjie uiteindelik blaas nadat die Iere ʼn magdom fases in hul tevergeefse soektog na die wendrie opgebou het, het die 38-jarige losskakel se roemryke loopbaan in nóg ʼn kwarteindstryd-nederlaag vir sy geliefde span geëindig.

“Jy moet baie hard werk om vir ʼn sprokieseinde te sorg, maar ons kon net nie die knoop deurhak nie. Ons het egter geen steen onaangeroer gelaat nie, ons het ongelooflik hard geoefen en daar was ʼn regmerkie langs elke liewe vereisteboksie. Tog werk dinge nie altyd in die lewe uit soos wat ons dit wil hê nie,” het Sexton gesê.

In sy finale Wêreldbeker-toernooi het die strydros 58 punte aangeteken en drie drieë gedruk – hy was steeds ʼn baie gevaarlike teenstander.

“Johnny is pure klas. Hy is die ware spelleier van sy span en hy het ʼn sê in min of meer alles wat op die veld gebeur,” het Nieu-Seeland se Richie Mo’unga in aanloop tot die kwarteindstryd gesê.

Sexton en Ierland het vanjaar die Sesnasiesreeks onoorwonne afgesluit. (Foto: Paul Faith/AFP.)

Sexton het in 2006 sy buiging vir Leinster gemaak en sedertdien het hy onder meer vier Kampioenebeker- en ses Pro14-titels ingeoes, terwyl hy vier keer saam met Ierland met die Sesnasies-louere weggestap het.

Gʼn wonder hy word so hoog aangeskryf nie – nie net in Ierland nie, maar ook op die internasionale verhoog.

“Johnny is eerstens ʼn ongelooflike mens. Terselfdertyd is hy waarskynlik die beste speler wat nog ooit vir Ierland gespeel het; dit sê baie van jou as speler as jy op 38-jarige ouderdom nog topvertonings lewer,” het Andy Farrell, Ierland-afrigter, gesê.

Sexton is natuurlik trots op sy loopbaan, maar hy wou bitter graag die Webb Ellis-trofee vir sy land omhoog gehou het.

“Die afgelope ses weke was ʼn droom saam met die spelers en ondersteuners. Ek is baie teleurgesteld dat ons nie vir hulle kon wen nie.”

Ja, daar was ʼn uitbarsting of twee (of drie) en hy het dalk ʼn bietjie te veel met die skeidsregter gesels, maar Jonathan Jeremiah Sexton het met pure rugbypassie vir Ierland en Leinster gespeel.

Sexton se loopbaan-statistieke:

Wedstryde: 124

Punte: 1 113

Drieë: 19

Doelskoppe: 182

Wêreldbeker-wedstryde: 136 punte in 17 toetse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Die kwartfinale is wragtig waar die taaiste rugby en die beste rugby wat ek die afgelope 3-4 jaar gesien het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.