Griekwas draai die horlosie 52 jaar terug

Bulle teen die Griekwas. (Foto: GB Jordaan)

As jou bloed blou is, sou die Bulle se nederlaag Vrydagaand op Loftus Versfeld met 19-30 teen Griekwas in die eerste halfeindronde van die Curriebeker-reeks ʼn bitter pil gewees het om te sluk.

Maar gun die Poubloues nog ʼn glorieryke hoofstuk in hul geskiedenis.

Die Bulle het laas in 1970 in Kimberley in die eindstryd van dié reeks gespeel en destyds ʼn skokoorwinning van 11-9 oor Noord-Transvaal behaal.

Nee, dis nie die ou De Beer-stadion in Kimberley nie en nee, dis nog nie die Curriebeker-eindstryd nie, maar Griekwas het die ou manne met die blomkoolore se oë weer waterig gelaat.

Net soos 52 jaar gelede, toe Griekwas se onbesonge helde, het die span Vrydagaand weer gepronk. ­­Daar was destyds darem drie Springbokke in die opdrafspan – Mannetjies Roux, Piet Visagie en Piet van Deventer, met Joggie Viljoen wat in 1971 ook die groen-en-goud gedra het.

Dié keer was daar nie een Springbok in Griekwas se span nie, maar aan geesdrif, passie, goeie verdediging en ondernemingsgees het dit net soos in 1970 weer nie ontbreek nie.

Dit was teen ʼn jong Bulle-span wat versterk is met ʼn paar spelers met ondervinding in die Verenigde Rugbykampioenskap, maar daar was ook jong spelers in Griekwas se span, onder meer ʼn paar oud-Tukkies wat onlangs nog Varsitybeker-rugby gespeel het. Hulle het gedy en het die vaardighede wat die afgelope seisoen deur die afrigtingspan van Pieter Bergh ontwikkel is, uitgestal.

Saam met die ervare George Whitehead, wat 18 punte aangeteken het, het hulle Loftus se ligte letterlik en figuurlik uitgedoof.

In Pretoria is daar die afgelope paar maande baie gekraai oor die ongelooflike vertonings van die afgelope seisoen. ʼn Hele ry bekers wat reeds in die vertoonkas pryk, getuig daarvan.

Maar vanjaar se Curriebekerreeks sal net ʼn droom bly.

Punte: Griekwas 30 (3): Drieë: Hanru Sirgel, George Whitehead, Strafdrie (7 punte). Doelskoppe: Whitehead (2). Strafdoele: Whitehead (3).

Bulle 19 (7): Drieë: Lizo Gqoboka, Bernard van der Linde, Juan Mostert. Doelskoppe: Mostert (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.