Hane se spel laat vonkelwynproppe klap

Damian Penaud (links) het ’n driekuns van drieë teen Namibië behaal. (Foto: Nicolas Tucat/AFP)

Die Hane pronk weer!

Frankryk het Donderdagaand ʼn vonkelwynvertoning op die rugbyveld gelewer toe hulle vir Namibië met 96–0 in Marseille geklop het.

Die tuisspan het die tempokrane van die wedstryd groot oopgedraai en met avontuurlustige hardlooprugby die arme Namibiërs van hul voete gestoomroller.

Afrigter Fabian Galthié het 12 veranderinge aan die Franse span gemaak – die Hane het mos in hul vorige wedstryd teen Uruguay effens kleigetrap – en sy spelers het terstond 12 drieë teen die Welwitchias gedruk.

ʼn Strafdrie het ook vir telbordmomentum gesorg.

Daar is egter kommer oor Antoine Dupont nadat hy vroeg in die tweede helfte hard koppe met Johan Deysel gestamp het.

Deysel is aanvanklik met ʼn geel kaart van die veld gestuur vir sy gevaarlike duikslag, maar die bunker-beampte het dit ʼn kort rukkie later met ʼn rooi kaart vervang.

Daarteenoor het Dupont die speelveld in trane verlaat en daar word in die Franse media gefluister dat die skrumskakel moontlik ʼn gebreekte kakebeen het.

“Antoine het ʼn harde stamp teen die kop gekry en hy sal skanderings ondergaan om die omvang van sy besering te bepaal. Hy is egter ʼn sterk speler en ons kan beslis op sy taaiheid reken. Terselfdertyd maak dit ʼn mens ook net weer bedag op die gevaar van kop-teen-kop-kontak op ʼn rugbyveld,” het Raphael Ibanez, Frankryk se spanbestuurder, gesê.

Jonathan Danty, wat sy terugkeer ná ʼn besering gemaak het, was een van die rits Franse spelers wat meer as twee drieë in die wedstryd gedruk het.

Frankryk vuur ongetwyfeld weer op alle suiers en wanneer hulle in só ʼn bui is, gaan hulle bitter moeilik in die uitkloprondes van die Wêreldbeker-toernooi gestuit word.

  • Puntemakers:

Frankryk: Drieë: Damian Penaud (3), Louis Bielle-Biarrey (2), Jonathan Danty (2), Charles Ollivon (2), Thibaud Flament, Antoine Dupont, Baptiste Couilloud, Melvyn Jaminet en ʼn strafdrie. Doelskoppe: Thomas Ramos (2).

Namibië: geen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kobus ·

Wêreld Rugby moet die kompetisie hersien. Krag teen krag. Waarom nie ‘n A en B stelsel inbring dan kan speel hulle aan die einde ‘n promosie relegasie wedstryd. Dis vernederend en demoraliserend om met 96 punte te verloor. Niks word hieruit geleer nie. Hoeveel van Namibië se spelers is werklik professioneel? Meeste het ‘n voldag werk.

Anel ·

Ek stem 100% met jou saam. En dan dink die Franse hulle is so goed!! Maar eintlik is dit goed dat die Franse so dink. Wanneer hulle dan teen ‘n sterker span te staan gaan kom gaan hulle wonder waar het hulle wat verkeerd gedoen. Mens verlekker jou nie in die swaarkry van iemand anders nie. Die Franse is profesionele spelers hoeveel het ‘n gewone werk? Die teenoorgestelde van die Namibiers!!!

Schalk ·

Hoekom? As jy saam die groot honde wil blaf, wees dan reg daarvoor. Gee hulle n afrigter wat die naam werd is en jy sal die verskil sien. Of glo jy ook dat elke span n medalje verdien, al eindig hulle laaste? Dit is sport mnr, hoe anders verbeter jy?

Kobus ·

Mnr, lees my voorstel. Waar lees jy dat elke span ‘n medalje moet verdien? Dit blyk dat jy van eensydeige wedtryde hou

Schalk ·

Indien Namibia n afrigter gehad het, kon hulle dalk n punt of twee aangeteken het. Om te dink SA rugby het potensiaal in Coetzee gesien, dit was n donker tyd in SA rugby.

Hennie Biebouw ·

Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar vanwaar die vonkelproppe om ‘n 14-man Namibië met 96–0 te klop?

JohanR ·

Is dit nie miskien tyd om aan te skyf na 24 wereld beker spanne met 12 wat vir die wereld beker speel, en 12 wat vir ‘n ander beker speel. Dit moet gemeet word aan die 24 spanne op ‘n wereldlys op ‘n sekere afsny punt. 96-0 doen niemand enige goed nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.