Hansen kap na Kiwi-rugbybase, verdedig Foster

Steve Hansen. (Foto: Natacha Pisarenko/AP)

’n Vis vrot van sy kop af”, is ’n uitdrukking wat veral gewild in die sportwêreld is wanneer oudspelers of afrigters hul misnoeë met administrateurs te kenne gee.

Nou het Steve Hansen na Nieu-Seeland se rugbybase gekap omdat hulle die beleërde Ian Foster nie genoeg ondersteun nie.

Wanneer ’n mens Hansen en Foster se name in dieselfde sin raaklees, dink jy aan Elandré se “Dag & nag”-treffer. Want dit is omtrent hoe baie hul internasionale afrigtergetuigskrifte tans van mekaar verskil.

Hansen het in sy meer as 100 wedstryde aan die stuur van die All Blacks net ’n handjie vol wedstryde verloor, terwyl die Nieu-Seelanders onder Foster se toesig in vier van hul laaste vyf toetse vasgeval het.

Nodeloos om te sê is die nederlae iets wat Kiwi-rugbyondersteuners dwars in die krop steek en hulle het saam met die plaaslike media Foster se kop geëis.

Terselfdertyd het Mark Robinson, uitvoerende hoof van New Zealand Rugby (NZR) die uitslae as “onaanvaarbaar” bestempel en Foster se pos was onder die vergrootglas.

Tog glo Hansen dat Foster geskik is vir die pos – hy was immers een van sy assistent-afrigters toe die All Blacks in 2015 die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het.

“Daar is baie dinge wat deesdae in Nieu-Seelandse rugby hersien word, maar wanneer laas het die administrateurs self ’n bietjie introspeksie gedoen?” het Hansen op ’n radioprogram gevra.

“Ian Foster word byvoorbeeld glad nie beskerm nie en ek kan nie dink dat hy tans baie tevrede is nie. Tog glo ek dat hierdie iets baie groter as bloot net ’n spankwessie is.”

Volgens Hansen doen Nieu-Seeland se rugbybase doodeenvoudig net nie meer hul werk nie en die verhouding tussen die raadslede en die spelers was nog nooit vantevore so swak nie.

Hy het terselfdertyd ook vir die All Blacks-kaptein Sam Cane in die bres getree nadat daar vroeër ook sprake was dat hy van sy kapteinskap gestroop sou word.

“Ek onthou in 2007 toe daar aangevoer is dat Richie McCaw die swakste All Blacks-kaptein nóg is. Hy het sy loopbaan as een van die beste leiers afgesluit terwyl hy twee keer die Wêreldbeker gewen het.

“Sam Cane sukkel baie met beserings en ons almal weet dat hy ’n goeie speler is. Ons moet net in hom glo en hom ondersteun.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.