Iere bederf Blitsbok-partytjie

Die Blitsbokke het hul finale groepwedstryd teen Ierland met twee punte verloor. (Foto: Hansie Linde)

Die tafel was gedek vir ʼn onoorwonne eerste dag, maar Ierland het die Blitsbokke se partytjie in Kaapstad bederf.

Die Iere het die kragmeting met 14 – 12 beklink nadat die Suid-Afrikaners se verdediging – wat in die aanloop tot die wedstryd een van hul grootste sterk punte was – hulle nou met tye in die steek gelaat het.

Tog het die Blitsbokke steeds genoeg in die vorige wedstryde teen Groot-Brittanje en die VSA gedoen om vir die beker-kwarteindstryd van hul tuistoernooi te kwalifiseer.

Rosko Specman het weer gewys dat hy nog drieë op die groot verhoog kan druk toe hy die eerste punte van die wedstryd aangeteken het, maar daarna het die Iere met twee drieë van hul eie teruggeslaan.

Teen rustyd het die besoekende span ʼn voorsprong van 14 – 5 geniet.

Terwyl die sekondes op die grootskermhorlosie aftik, het die Blitsbokke die een aanval op die Ierse doellyn na die ander probeer loods.

Tog loop dinge nie altyd reg wanneer jy té hard probeer nie en die Suid-Afrikaners se hanteerwerk het hulle in die steek gelaat.

ʼn Tweede en laaste drie het gesorg dat dinge op die telbord ʼn bietjie beter lyk, maar Selvyn Davids en kie sal môre hard moet werk; bekersukses in Kaapstad is immers op die spel.

En dit is iets wat die Blitsbokke lank terug gesmaak het.

Die kwarteindstryd teen Australië begin môre om 11:18 en die wedstryd word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

  • Groepe:

Groep A:

  1. Ierland: 9 punte
  2. Suid-Afrika: 7 punte
  3. Groot-Brittanje: 4 punte
  4. VSA: 1 punt

Groep B:

  1. Fidji: 7 punte
  2. Argentinië: 7 punte
  3. Frankryk: 6 punte
  4. Spanje: 1 punt

Groep C:

  1. Australië: 6 punte
  2. Kanada: 6 punte
  3. Nieu-Seeland: 4 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.