Iere se wenperd steeds opgesaal

Ierland is beslis nog oorgehaal om rugbywedstryde te wen. (Foto: X/Ireland Rugby)

Die 2024-weergawe van die Sesnasies-reeks stuur op ʼn opwindende einde af ná Marcus Smith se skepskopheldedade verlede naweek teen Ierland op Twickenham.

Engeland het die kragmeting met 23 – 22 gewen en staan nog ʼn kans om die silwerware omhoog te hou. Mits hy natuurlik met Frankryk weg van die huis afreken en Ierland teen Skotland in Dublin verloor.

Maar, sê Josh van der Flier, die Iere se wenperd is steeds opgesaal. Selfs ná daardie onverwagse struikelblok teen die Rose.

“Dit word naderhand ʼn gewoonte om wedstryde te wen. Dinge loop reg en jy neem nie paniekbevange besluite wanneer die bal vir ʼn slag nie in jou guns bons nie,” het die voormalige Wêreldrugbyspeler van die jaar gesê.

Volgens Van der Flier is Ierland oorgehaal om weer op die wenpad teen Skotland te kom.

“Dit gaan ʼn groot toets wees, maar ons is volwasse genoeg as ʼn span om onsself reg te ruk en te besef dat daar wel dinge is wat binne ons beheer is.”

Teen Engeland was dit nie net Smith se skepskop wat sy span gekelder het nie; Ierland het ook ʼn spul onnodige foute op die speelveld begaan.

“Ons het die oorwinning deur ons vingers op Twickenham laat glip. Dit was baie teleurstellend. Maar nou staan ons nog ʼn kans om die titel in te oes en ons moet baie gou van die vorige wedstryd se teleurstelling vergeet.”

Bepalings (Saterdag):

16:15: Wallis teen Italië

18:45: Ierland teen Skotland

22:00: Frankryk teen Engeland

Punteleer:

  1. Ierland: 16 punte ná vier wedstryde
  2. Engeland: 12 punte ná vier wedstryde
  3. Skotland: 11 punte ná vier wedstryde
  4. Italië: 7 punte ná vier wedstryde
  5. Frankryk: 6 punte ná drie wedstryde
  6. Wallis: 3 punte ná drie wedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Weer met slegs een punt, wys net dat skop na pale belangrik is en geneem moet word indien binne trefafstand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.