Iere terug op wenpad, spog met silwerware

Ierland is weer die Sesnasies-kampioenspan nadat hy vir Skotland in Dublin geklop het. (Foto: Paul Faith/AFP)

Die Springbokke sal vroeg in JuLie met die Sesnasieskampioenspan te doene kry wanneer Ierland twee toetse teen die Suid-Afrikaners op Loftus Versfeld en Kingspark speel.

Peter O’Mahony se span het met groot sukses weer op die wenpad geklim toe hy Saterdagaand sy tweede Sesnasiestitel op ʼn streep in Dublin omhoog gehou het.

Ierland moes vir Skotland wen om met die louere weg te stap nadat Marcus Smith se skepskop vir ʼn onverwagse struikelblok teen Engeland gesorg het.

Vir die Ierse spelers het wenrugby egter ʼn gewoonte geword en hulle het die moedige Skotte met 17 – 13 op die Aviva-stadion geklop.

Voorryman Andrew Porter se drie in die tweede helfte het uiteindelik die Skotse weerstand gebreek en die besoekers kon maar net nie ʼn houvas op die wedstryd kry nie; selfs toe Huw Jones met ʼn uitstekende individuele lopie vorendag gekom het.

Dit was toe net reeds te laat.

Benewens Ierland se silwerwaresukses was dit ook hul tiende oorwinning op ʼn streep teen Skotland en O’Mahony het meen dat sy spelers ʼn groot klop op die skouer verdien.

Die 34-jarige losvoorspeler spog reeds met vyf Sesnasiestitels agter sy naam maar dié jongste sukses is ongetwyfeld die kersie op die koek.

“Dit was een van die taaiste weke in aanloop tot ʼn wedstryd gewees. Die senuwees het geknaag, maar almal in die span was in presies dieselfde bootjie. Ja, dit was nou beslis ʼn baie spesiale vertoning,” het die Ierland-kaptein gesê.

O’Mahony was verlede week met ’n geel kaart van die veld gestuur in die nederlaag teen die Rose op Twickenham en hy was oorgehaal om vir dié blaps te vergoed.

“Ons wou glad nie teen Engeland verloor nie, maar ons het geweet dat ons so gou as moontlik weer beter sal moet speel. Gelukkig kon ons dit op ons tuisveld – en met die silwerware op die spel – doen.”

Ondanks die nederlaag is Skotland se Gregor Townsend trots op sy spelers se vertoning.

Die doedelsakblasers het tydens verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi met 36 – 14 die onderspit teen Ierland gedelf en hy meen dat die span nou baie beter vertoon het.

“Al 23 spelers het hulself goed van hul taak gekwyt. Dublin is immers vir opposisiespelers ’n baie taai uitdaging.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.